Lukas 24: 44-53

Hemelvaart is lankal nie meer ’n publieke vakansiedag nie. Die skole in die omgewing waar ek grootgeword het, het altyd moeite gedoen om Jesus se hemelvaart te herdenk. Iets wat groot aftrek gekry het, was ballonne wat deur die kinders in die lug vrygelaat is.

Dit is eintlik ironies as ons in ag neem dat Lukas se vertelling van die hemelvaart nie soseer gaan oor waar Jesus is nie, maar wie Jesus is. Die Een wat gely het, doodgemaak is en op die derde dag opgestaan het en voor sy dissipels verskyn het. Wat opgevaar het na die hemel – nie om net by God te wees nie, maar om te wys dat Hy self ook God is…

Omdat Jesus God is, beloof Hy om vir sy volgelinge ’n gawe te stuur wat hulle met krag sal toerus en ook om hulle te troos – die Heilige Gees. Elkeen wat glo, ontvang hierdie gawe. Die Heilige Gees neem nie ’n fisiese vorm aan nie. Ons kan die Gees nie letterlik sien nie, maar tog kan ons sien waar die Heilige Gees was. Dis soos die wind wat waai – ons weet dat wind tot stand kom wanneer lug van ’n hoë drukking na ’n laer drukking beweeg. Wat die wind veroorsaak, kan ons nie met die blote oog waarneem nie, maar ons sien hoe dit beweeg in die geritsel van die blare.

Wanneer die Heilige Gees deur ons werk, kan mense rondom ons dit ook sien. Ons los mense dan op ’n beter plek as waar ons hulle gekry het. Wanneer iemand seer het, gee hom of haar ’n drukkie. Wanneer mense deur die wêreld platgeslaan is, tel hulle op. Wanneer iemand alleen is, wees vir daardie persoon ’n vriend of ’n vriendin. Dit is tog wie die Heilige Gees is – Vertrooster.

Ds Nastasia Vosloo-Steyn, Donegal/Molopo-kombinasie

af
af
Deel met behulp van
Copy link