Openbaring 2: 1-7

Wanneer Johannes aan die gemeente in Efese skryf, sê hy vir hulle dat die boodskap kom van Christus wat die sewe sterre in sy regterhand vashou en wat tussen die sewe goue lampe rondgaan (Op 2: 1). Die Griekse woord wat gebruik word om Christus se “rondgaan” te beskryf, kan ook beteken “om heen en weer te beweeg” – dus, om die hele tyd rond te beweeg tussen die lampe. In Openbaring 1: 20 is geopenbaar: die sewe sterre is die leraars van die sewe gemeentes, en die sewe lampe is die sewe gemeentes. Wanneer ons kyk na die omstandighede van hierdie gemeente in Efese, besef ons watter wonderlike boodskap van troos hierdie woorde vir die gemeente moes gewees het. Efese was ’n ekonomiese middelpunt van die antieke wêreld. Daar is ’n groot amfiteater gebou met sitplek vir meer as 21 000 mense. Reg deur die stad was daar klein besighede asook tempels vir allerhande gode en godinne van die Grieks-Romeinse wêreld. Daar is ook gemeen dat elkeen van hierdie besighede onder die beskerming was van een of meer van hierdie gode in Efese.

In Handelinge lees ons hoedat Paulus in konflik gekom het met die silwersmede wat beelde van die godin Artemis gemaak het (Hand 19: 21-40). Ons leer ook hier dat Artemis ’n belangrike rol in die stad Efese ingeneem het, want die smede praat nie net van Artemis nie, maar spesifiek van Artemis van die Efesiërs (Hand 19: 28). Die gemeente in Efese het in toewyding aan Christus geleef (Op 2: 2). Hierdie toewyding sou gelei het tot moeilike omstandighede in hul daaglikse lewe. Maar Johannes verseker hulle dat hulle nooit alleen is nie, dat Christus hulle altyd in sy hand sal vashou en by hulle sal wees. Christus is immers die Een wat heen en weer tussen die gemeentes rondbeweeg (Op 2: 1).

So weet ons ook vandag nog dat Christus altyd saam met ons is en ons nooit alleen laat nie.

Gesang 509

Ds Robert van Niekerk, Noordelike Pretoria

Share via
Copy link
Powered by Social Snap