Matteus 5: 43-48

Alle godsdienste deel bepaalde kenmerke. Almal erken die bestaan van ’n God of gode. Almal het heilige geskrifte waardeur daardie god(e) kommunikeer. Almal het geloof dat hulle met die ware vorme van daardie dinge besig is. Almal het ’n doel om te verkondig en te versprei. Daarmee saam is alle godsdienste, filosofieë, ideologieë, politieke en sosiale stelsels en belangegroepe oortuig dat die wêreld ’n beter plek sal wees as almal net sal dink, doen en glo soos “ons” dink, doen en glo. So wat maak ons godsdiens anders, of eerder wat maak ons geloof meer geloofwaardig as enige ander? Wat onderskei die volgelinge van Jesus van die Fariseërs of die heidene wat almal goeie godsdienstige mense is?  

Al wat een godsdiens waar kan maak, teenoor ander wat minder waar of onwaar sou wees, is ’n God wat anders is as die god of gode van ander godsdienste. In Jesus se optrede en leringe leer ons ons God as anders ken. Selfs anders as wat baie Ou-Testamentiese skrywers God ken. Dit reën inderdaad oor wetsgehoorsames én wetsverbrekers. Wat sou van die regverdige word as sy goddelose buurman se optrede bepaal wanneer God dit laat reën of nie? Nee, die ware God beskou die skepping anders as wat mense of ander gode dit sou beskou.

God se geregtigheid word nie deur die optrede van die mens bepaal nie, maar deur God se eie aard van genade, barmhartigheid en liefde. Die Seun van God openbaar hierdie andersheid van God en leer ons om op dieselfde manier anders te wees sodat ons ook kinders van God mag wees. Genade teenoor goed én sleg. Barmhartigheid teenoor wetsgehoorsames én wetsverbrekers. Liefde, ook teenoor dié wat nie soos “ons” dink, doen of glo nie.

Ds Gerrit-Daan van der Merwe, Strand

af
af
Deel met behulp van
Copy link