Habakuk 2: 1-4

Die profeet Habakuk is namens sy volk in gesprek met die Here. Habakuk kla oor geweld en onreg. Hy neem die Here kwalik dat Hy net toekyk terwyl daar soveel ellende is. Dit is in hierdie omstandighede dat Habakuk die bekende vrae vra: Hoe lank moet ek nog om hulp roep? Waarom laat U die onreg toe? Dit is vrae wat vandag steeds gevra word. Hoe lank moet dit so aangaan? Waarom gryp die Here nie in nie? Waarom laat die liefdevolle God toe dat slegte dinge met goeie, gelowige mense gebeur?

In die Here se antwoord hoor Habakuk dat die Here die Galdeërs, ’n wrede en woeste nasie wat ontsag inboesem, gaan gebruik. Maar Habakuk hoor ook …julle sal verstom staan oor wat julle sal sien… (1: 5), want iéts gaan gebeur. Habakuk is nog nie gerus nie. ’n Tweede keer protesteer hy: Nee, Here, U kan tog nie net niks doen nie! Waarom bly U stil? (1: 13).

Habakuk besluit om op die uitkyktoring te gaan wag op die antwoord van die Here. Daar verneem Habakuk dat hy die openbaring van die Here op kleitablette moet skryf, sodat elkeen dit sommer in die verbygaan kan lees. Habakuk verneem weer dat hy geduldig moet wag, …want dit kom beslis (2: 3). Op daardie dag sal onderskei word tussen dié wat onreg doen en dié wat reg doen. Dié wat reg doen, sal lewe omdat hulle gelowig lewe (2: 4). Daar kom ’n dag wanneer hierdie onderskeid werklikheid sal word.

Habakuk en sy volk lewe in die verwagting van ’n groot gebeurtenis, die skeidingsdag. Daardie dag sou aanbreek toe Simeon van Jesus Christus gesê het: Hierdie Kindjie is bestem tot ’n val (vir party) en opstanding (vir ander) van baie (Luk 2: 34).

Hierdie vooruitsig het Habakuk met ontsag vervul. Treffend beskryf hy die gevoel wat hom oormeester het. Habakuk besluit om geduldig te wag. Kom ons vereenselwig ons met Habakuk se laaste, bekende woorde: Al sou die vyeboom nie bot nie… nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder (3: 17-18).

Dr Frans Boshoff, Emeritus/Chrissiesmeer

af
af
Deel met behulp van
Copy link