Psalm 23

Daar is twee beelde in Psalm 23: ’n herder met sy kudde, en ’n feesmaal. Uitleggers meen daarom dat Psalm 23 aanvanklik twee afsonderlike kort psalms was wat later bymekaar gevoeg is en gebruik is as liturgie vir die bring van dankoffers.

Dankoffers is gebring uit dank vir seëninge of wanneer God uitkoms geskenk het na swaarkry. Die uitgebreide familie het met bykosse en ’n offerdier tempel toe gegaan om as pelgrims in God se teenwoordigheid sy seën of uitkoms te vier. Die vet van die offerdier is vir die Here verbrand, en die blad is vir die priester gegee. Die res van die dier is gebraai en saam met die bykosse voorgesit.

Dan sou die familiehoof verduidelik waarom hulle daar is: Die Here is hul herder wat hulle lei en versorg. Hy praat óór God. Daarna gaan hy oor tot gebed en praat mét God. Opmerklik begin hy bid by die deel oor die dal van doodskaduwee (1933-vertaling), by die swaar tyd. Daar vrees hulle nie, want die beskerming van sy stok en herderstaf stel hulle gerus. Hy gaan in die gebed oor na die tweede beeld en verduidelik dat God die dankofferfeesmaal moontlik maak. Dit is sy uitkoms wat hulle vier. Dit nogal voor hul vyande, wat ook by die tempel is en daarom mede-Israeliete, medegelowiges is! Juis hulle het die moeilike omstandighede veroorsaak…

Hierdie viering van die uitkoms van God is die viering van God se goedheid en guns wat ook elke dag beleef word en daarom herhaaldelik gevier sal word. Daarom is hulle tuis in die tempel.

Ons vier ook die uitkoms wat God skenk. Met brood en wyn vier ons dankbaar dat ons met God versoen is deur die Goeie Herder, wat sy lewe vir sy kudde afgelê het.

Gesang 295: 1-3

Dr Gert Malan, Mosselbaai

af
af
Deel met behulp van
Copy link