Psalms 42 en 43
As ons die kermende refrein in Psalm 42 en 43 driemaal hoor herhaal, besef ons – hierdie twee Psalms is eintlik een: Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Maar die kermende stem verander telkens na een vol hoop: Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing. Hy is my helper en my God!
Die eerste deel van hierdie gedig van die Koragiete vertel van die groot nood van iemand wat geen water meer het nie. In droogtetye kry nie eens die diere in die veld genoeg kos en water om van te oorleef nie. Alles wat leef, dors na water, maar die hemel bly toe.
In tye van swaarkry en tekort in ons lewe kan ons ook smag na meer, na genoeg, na net genoeg om te oorleef: genoeg kos, genoeg geld, genoeg liefde, genoeg erkenning, genoeg betekenis. En ons dors na God, na die lewende God, om ons lewe vol genoeg te maak. Maar ons voel asof ons honger en dors bly!
Die tweede deel van die Koragiete se gedig vertel van die groot nood waarin mense beland as hulle met te veel water bedreig word: water wat chaoties orde bedreig, en wegspoel, en kan vernietig. Waters wat so groot en magtig is dat dit oorverdowend raas, watervalle en riviere wat met groot geweld spoel. As ons voor ’n groot waterval staan, wil ons maar ’n bietjie wegstaan, nie gly en val oor die afgrond nie, want ons sal totaal magteloos daarin wees. Die Psalm kla: Here, U het golf na golf oor my laat slaan! U het toegelaat dat ek deur golwe groter as ekself, golwe waarteen ek magteloos is, platgeslaan word!
So is die aardse lewe, ons word dikwels platgeslaan deur krisisse, dood, afskeid, werkloosheid, natuurrampe, allerhande dinge waarteen ons ons nie kan verweer nie. Dan kan ons daaraan vashou dat die Here dit toelaat, maar dat die riviere ons nie sal wegspoel nie. Hy sal weer op ’n dag sy trou laat blyk, en ons sal weer vir Hom ’n loflied sing!
Ds Milankie van der Walt, Namib-Suid
