Job 38: 1-7
Een van die aardigste realiteite om onder die knie te kry, is hoe ’n tweejarige kind rou en treur asof die wêreld tot ’n einde gekom het as die suigstokkie, wat hy of sy al vir ’n uur lank vashou sonder om daaraan te suig, val en breek. ’n Mens sukkel om te verstaan hoekom enigiemand so onbedaarlik tekere sou gaan oor iets so klein soos ’n stokkielekker. Dit maak eers sin wanneer jy empaties begin agterkom dat daardie stokkielekker vir die kind op daardie punt wel sy of haar hele lewe was.
Soms wonder ’n mens of dit nie die geval ook hier in Job se verhaal is nie. Vir hom het sy hele wêreld in duie gestort en vir dae lank het hy en sy vriende geworstel en geredeneer oor hoekom dit gebeur het. Wanneer hy die Here daaroor uitdaag en vra, sien ons dat die Here geen antwoorde gee soos die duiwel of toets van geloof en toewyding nie. Die Here vat Job deur die skepping.
Die Here neem Job na ’n plek waar hy meer as sy wêreld en omstandighede raaksien en besef dat sy wêreld wat in duie gestort het, nooit sy wêreld was nie. Dit is ’n stukkie van die Here se skepping wat aan hom geleen word. Soos die Here na hierdie skepping, groter as wat Job kan begryp, omsien, so sien die Here ook nog altyd na Job om. Job se uitdagings, sy swaarkry en sy verdriet, is nie gering gemaak nie. Die grootheid van sy Skepper wat hom sterk deur alle uitdagings wat die gebroke wêreld kan bied, is net herbevestig.
Mag dit so wees dat wanneer ons voel asof die wêreld ons in hoeke indruk waar ons nie meer kan asemhaal nie, ons ook oor die mure van lyding die grootheid van God in die skepping sal raaksien en sal onthou wat Jesus ons in Matteus 28: 20 ook belowe: Ek is met julle tot in lengte van dae.
Ds Schalk Zastron, Ermelo
