Matteus 7: 7-12

In vers 12 kry ons die goue reël van verhoudings: Doen aan ander wat jy wil hê hulle aan jou moet doen. Soos wat ons die bergrede lees, sien ons God is die Regeerder en ons leef in sy koninkryk. Verhouding is die sleutelterm om hierdie teksgedeelte te verstaan.

Om iemand lief te hê, het twee kante. Aan die een kant doen ons sekere dinge nie, en aan die ander kant doen ons sekere dinge wel vir hulle. In die vorige verse van die bergpreek gee Jesus byvoorbeeld die negatiewe, soos: Jy mag nie oordeel nie. Maar hier leer Jesus ons die goeie dinge wat ons moet doen, al word dit nie aan ons gedoen nie. Die wêreld het die negatiewe formulering van die goue reël ’n gesegde gemaak. Die wêreld sê: Moenie aan ander doen wat jy nie wil hê hulle moet aan jou doen nie. Dit is selfsugtig. Dit is ’n moenie-doen-nie-formule. Dit is negatief, en nie wat Jesus sê in die teks nie. Jesus se positiewe formulering wat ons vind in Matteus se weergawe van die bergpreek, is iets heeltemal anders. Dit spruit uit liefde.

Die negatief geformuleerde tipies menslike etiek word gedryf deur vrees en selfsug, maar die positiewe weergawe word uit liefde gedryf, en dit kom van God af. Ons bestuur byvoorbeeld versigtig uit vrees vir die wet, uit vrees vir ’n boetekaartjie. Mense sal maklik slegte dinge vermy uit vrees, maar sal dit nie noodwendig doen uit liefde nie. Jesus verwag dat ons anders sal optree. God gee nie vir ons ’n klein reëlboekie vir ons sak nie. Hy verwag dat jy sal vra, soek en klop; sal aanhou vra na wat reg is om sodoende hierdie verhouding lewendig te hou. Jy kan nooit ophou nie – jy eer Hom deur aan te hou. Dit is geen irritasie nie – dit is wat die parallelle vertelling in Lukas 11 ons leer. God maak die deur oop uit liefde. Die vraag is, kan ek dit uit dieselfde liefde vir ander doen?

Dr Hein Delport, Swartkop

af
af
Deel met behulp van
Copy link