Handelinge 4: 32-37

Wanneer jy na ons verwys, na hoeveel mense verwys jy? In hierdie tweede kort omskrywing van die gelowiges in die gemeente van Jerusalem, vertel Lukas dat hulle een van hart en siel was. Niemand het gesê dat iets sy eie was nie. Hulle het alles gesamentlik gehad. Hulle het vir mekaar omgegee en mekaar op die hande gedra, en een en dieselfde hart klop in almal.

Daarby was die genade groot oor almal. Niemand onder hulle was behoeftig nie. Almal wat grond of ’n huis besit het, het dit verkoop en die geld aan die apostels oorhandig. Letterlik aan hul voete neergelê, dat die apostels dit met verantwoordelikheid sou gebruik. Die apostels het dit uitgedeel aan elkeen soos daar behoefte was. Wanneer iemand honger was, is kos gegee. Dit is waarskynlik in ons moderne samelewing iets wat moeilik te verstane is. Woorde wat hierdie geloofsgemeenskap omskryf: gemeenskaplik, geloof, eensgesind en goederegemeenskap.

As gelowige, wat maak ek met dit wat ek besit, maar ook met my talente en vermoëns wat nie met geld gemeet word nie? Wat maak ek met wat ek het en wat ek is? Is dit myne – en ek is baie duidelik daaroor – of deel ek? Gee ek terug uit dankbaarheid vir dit wat ek ontvang het? My geloofslewe, die uitleef van dit wat ek glo en wat ek uit genade ontvang het, wat maak ek daarmee: tuis, in die geloofsgemeenskap en by die werk? Wat ek is, is net genade. Wat ek het, is net geleen. Wie is die onse in jou pond?

Uit U is alles wat ons het – ons lewe, arbeid en gebed.

Op U, wat alles onderhou, bly ons ons hoop en toekoms bou.

(Gesang 466: 2)

Ds Kathleen Smith, Kaapstad

af
af
Deel met behulp van
Copy link