Markus 11: 1-11
Die triomfantlike intog. Dit was die begin van Pasga, die Joodse viering van hul uittog uit Egipte. Hier ry Jesus nederig op ’n donkie die stad in, terwyl die Romeinse leër met ’n hele prosessie op hul blink perde pronk met hul terugkeer van die slagveld. Jesus op sy donkie, wat niemand nog voorheen gery het nie, met vissermanne se klere as ’n saal, nederig, armsalig, sonder bravade.
Hierdie intog van Jesus moes gebeur om die profesie van Sagaria 9: 9-10 in vervulling te bring: Jubel, Sion! Juig, Jerusalem! Jou koning sal na jou toe kom. Hy is regverdig en hy is ’n oorwinnaar, hy is nederig en hy ry op ’n donkie, op die hingsvul van ’n donkie. Ek sal die strydwaens in Efraim vernietig, die perde uit Jerusalem uitroei. Die pyl en boog waarmee oorlog gemaak word, sal gebreek word. Die koning sal vrede vir die nasies afkondig en hy sal regeer van see tot see, van die Eufraat af tot in die uithoeke van die aarde.
Jesus se mag lê nie in magsvertoon nie, maar in liefde. Hy het nie gekom om die Romeinse Ryk se mag te breek nie, maar om die Koninkryk van God te laat aanbreek. Jesus oorwin nie deur oorlogvoering nie, maar deur sy nederigheid en gehoorsaamheid aan die Vader, sy opoffering, en sy liefde vir die mensdom. Al weet Jesus daar lê vir Hom ’n week van pyn en lyding voor, weet Hy ook Hy het reeds oorwin. Dit is hoekom hierdie triomftog in Jerusalem in so belangrik is.
Hoe lyk Jesus se intog in jou lewe? Is jy maar ’n toeskouer wat sien hoe die prosessie verby jou gaan, of is jy ’n deelnemer aan hierdie prosessie wat saam met Jesus die oorwinning vier? Kan jy ook sing Hosanna in die hoogste hemel, prys die Here! of is jy stil voor hierdie Koning in jou lewe? Wanneer ons aan hierdie intog deel het, word ons uitgedaag om, soos Jesus, onvoorwaardelik lief te hê, om nederig te wees, goedgesind en vredevol. Laat toe dat Jesus ook as oorwinnaar in jou lewe instap. Prys Hom! Loof Hom! Want Hy kom om te oorwin.
Ds Anneline Geyer, Kempton Park-Oos
