1 Timoteus 4: 6-16

Met Jesus se koms na die aarde breek die koninkryk van God op aarde deur. Met die wederkoms van Christus breek die volkome koninkryk van God deur. In hierdie aardse lewe hier en nou, leef ons as gelowiges tussen die reeds van die koninkryk, hier en nou, en die “nog nie” van die wederkoms wat voorlê. Die koninkryk het dus volmaak in Christus reeds aangebreek, maar sal eers eendag volkome wees met die wederkoms van Christus. In hierdie aardse bestaan lewe ons as mense met hoop. Hoop, gerugsteun deur die verlossing in Jesus wat reeds plaasgevind het. Hoop wat ons laat deel kry het aan die verlossing en nuwe lewe, bemiddel deur die Gees. Hoop met die vooruitsig om te mag deel in die ewige lewe wat aanbreek met die wederkoms van Christus. Aan hierdie hoop hou ons vas.

Hoop maak dat ’n mens anders en nuut lewe. Die ou lewe is verby. Daar is nou hoop op ’n beter lewe, nou reeds, maar ook in die toekoms. Paulus praat sy medewerker in geloof, Timoteus, moed in deur hom op te roep tot volharding in geloof, ywer vir die evangeliebediening en ’n godvrugtige lewe (vers 6). Die oproep word ondersteun deur die herinnering aan die hoop wat op God gevestig is (vers 10). God omgord ons hede, ons verlede en ons toekoms. Daarom hoef ons nooit sonder hoop te lewe nie. Op grond van die reeds in Jesus Christus en die nog nie van die wederkoms wat voorlê, kan gelowiges nou reeds in die hede voluit in geloof lewe, van nou af totdat Christus eendag weer kom.

In U is vreugde, vrede en vreugde, Jesus Christus, U is Heer.

Ons weet in lyding, U gee bevryding, U bly steeds ons lofsang, Heer.

U breek die bande van skuld en skande,

U wat vergewe, U laat ons lewe,

in U is vreugde. Halleluja!

Ons vrees geen dood meer, U is ons hoop, Heer.

Ons bly behoue en in vertroue

sing ons ons vreugde. Halleluja!

(Gesang 492: 1)

Prof Jaco Beyers, Universiteit van Pretoria/Centurion-Oos

af
af
Deel met behulp van
Copy link