Romeine 8: 31-35 en 38

Ons lees in Romeine 8: 31: God is vir ons, wie kan dan teen ons wees? Is dit waar? As ons kyk na al die ellende wat ons dikwels tref, wonder ons of God nog enigsins vir ons omgee. Hierdie vraag was veral tydens die pandemie op baie se lippe.

Die apostel Paulus het seker ook baie kere met dieselfde vraag geworstel. Hy het sy lewe opgeoffer vir die saak van die Here, en tog het daar met hom die verskriklikste goed gebeur. Hy is gespot en verguis, met stokke geslaan en met klippe gegooi. Hy het dae en nagte lank geen brood op die tafel gehad nie, en was in gevangenskap onder die slegste moontlike omstandighede. Dan steeds roep hy uit: God is vir ons, wie kan dan teen ons wees? Verder sê hy dat hy oortuig is dat niks ons kan skei van die liefde van God nie. Hoe is dit moontlik dat iemand met wie dit so sleg gaan, so kan praat en glo?

Paulus het die genade ontvang om weg te kyk van sy nood en ellende. Hy het weggekyk van die tronk, die boeie en die moontlike dood, en na bo gekyk. Na Jesus gekyk. By die kruis, die oop graf, die oop hemel, deur die krag van die Heilige Gees, het hy oortuig geraak. God het sy enigste Seun nie gespaar nie, maar Hom vir ons almal gestuur om vir ons sonde te betaal, ons dood te oorwin, ons sy kinders te maak. Groter liefde is daar nie en sal daar nooit wees nie.

Daar het Paulus die sekerheid ontvang: God is waarlik vír my. Daar en daar alleen kan ek en jy dit ontvang. Mag God veral in krisistye so in ons werk dat ons ook die krag sal ontvang om op te kyk, na bo te kyk, na die kruis van Golgota, die graf wat leeg is, die geopende hemel, Jesus Christus, ons enigste Verlosser en Saligmaker. Vanuit hierdie geloof het ons die sekerheid dat God ook al die ander dinge aan ons sal skenk (Rom 8: 32). Alles wat ons nodig het in lewe en in sterwe.

Prof Bieks Beukes, Emeritus

Share via
Copy link
Powered by Social Snap