Filippense 4: 2-9

Bekommernis is daardie benoude gevoel wat ’n mens kry oor dinge waaroor jy nie beheer het nie. Dit is in wese ’n kontroleprobleem. As ’n mens oor iets bekommerd raak, begin daardie bekommernis gou jou gedagtes oorheers. Ons kan nie die ekonomie beheer nie, dus is ons bekommerd oor die ekonomie. Ons kan nie die toekoms beheer nie, dus is ons bekommerd oor die toekoms. Bekommernis sal nooit iets oplos nie! As jy bekommerd is oor ’n probleem, bring dit jou nie nader aan ’n oplossing nie. Dit is soos om in ’n wiegstoel te sit – baie aktiwiteit, energie en beweging, maar geen vordering nie. Bekommernis verander niks, behalwe om jou ongelukkig te maak!

Dit maak nie saak hoe moeilik omstandighede mag wees nie, gelowiges het altyd hoop. Ons sê dikwels: Ek is so moeg om te probeer en te misluk. Hou op om te probeer. In plaas daarvan, vertrou op God. God gee jou die keuse om van Hom afhanklik te wees, óf om van jouself afhanklik te wees. Die effek is óf vryheid óf frustrasie. Vryheid kom wanneer God in beheer van jou lewe is en jou in die regte rigting beweeg om Hom as jou hemelse Vader te vertrou. As jy op God vertrou, hoef jy nie bekommerd te wees nie, omdat Hy belowe het om te sorg vir al jou behoeftes. Daar is geen probleem of uitdaging so groot dat Hy dit nie kan oplos nie. Daar is geen hartseer so diep dat Hy dit nie kan bemeester nie. God is altyd in beheer en Hy weet wat jy nodig het. Moenie moedeloos word nie! Moenie opgee nie!

Stel jou vertroue in die Here, vertrou op Hom, wag op die vervulling van sy woord. Soos Paulus die gelowiges in Filippense 4: 6-7 aanmoedig: Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

Dr Rudy Denton, Potchefstroom-Studente

af
af
Deel met behulp van
Copy link