Matteus 24: 36-44
Die kerkjaar help gelowiges om op ’n ritmiese manier die groot Bybelse gebeurtenisse in herinnering te roep. Desember is die begin van die kerkjaar wat ons Advent noem. Die woord Advent dui daarop dat ons wag op die koms van die Messias, Jesus Christus. Ons leef ons in die situasie van Jesus se geboorte in. Dink jou in die gelowiges se skoene in voordat Jesus gebore is. Hulle het in die afwagting geleef dat die Messias se koms naby moet wees. Net so leef ons in Adventtyd simbolies in daardie selfde afwagting om die koms van ons Verlosser te vier. Maar meer as dit, leef ons steeds vandag, nadat ons weet dat Jesus Christus gebore is, gesterf het, opgestaan het uit die dood en opgevaar het na die hemel, in afwagting op die Here se tweede koms of wederkoms.
Die wederkoms is een van daardie aspekte van ons geloof wat gedeeltelik aan ons geopenbaar is, maar gedeeltelik steeds ’n misterie vir ons bly. Aan die een kant hou die wederkoms van Christus verband met die koninkryk van God wat dán finaal in sy volheid gaan aanbreek. Ons glo en bely dat die koninkryk van God met Christus se eerste koms reeds gedeeltelik aangebreek het. Ons leef byvoorbeeld nou reeds in ’n persoonlike verhouding met God as sy kinders. Ons kan nou al die evangelie aan ander verkondig. Maar wanneer die koninkryk finaal hier is, dan is die tyd op. Dit is nie ’n slegte ding nie, maar iets om na uit te sien. Christus is ons waarborg dat die oordeelsdag vir gelowiges nie ’n dag is om te vrees nie, maar om ons oor te verheug. Sy sterwe, opstanding en hemelvaart verseker dat Hy ons teen die groot oordeel beskerm. Dit is ook dan wanneer alles volledig nuutgemaak word en in ’n volmaakte verhouding met God te staan kom. Dáárna hunker ons!
Soos ons dan hierdie feestyd ingaan, met die afwagting op die herdenking van Christus se geboortedag, glo ons weer opnuut in die wonder van God en sy groot liefde en ontferming.
Ds Waldo Pretorius, Ventersdorp
