Johannes 1: 43-51

Vandag kyk ons vir die laaste keer na die lied Kinders van die wind waarin ons beskryf word as soekers wat nie vind. Die lied verwoord iets van ons rustelose soeke na sin en betekenis wat somtyds nie gevind word nie. Hoe lank gaan die soektog tog voortduur? Wat moet gebeur?

In die gelese gedeelte sien ons hoedat Filippus deur Jesus as dissipel geroep word, en dan nooi Filippus vir Natanael om saam te gaan na Jesus toe. Natanael is egter baie skepties of daar iemand van betekenis uit Nasaret kan kom. Nasaret is ’n klein dorpie en daar gaan nie veel aan nie, so hy is onseker of die Messias uit Nasaret kan kom. Wanneer Natanael egter by Jesus kom, sê Jesus dat Hy hom ken. Hy het hom al gesien toe hy nog onder die vyeboom gesit het. Die vyeboom was ’n bekende plek van samekoms en onderrig, en Jesus het hom reeds daar gesien. Alhoewel Natanael onbewus was van Jesus, ken Jesus hom. Alhoewel Filippus en Natanael dink dat hul soektog na die Messias nou verby is, is dit lank reeds verby aangesien Jesus hulle gevind het. Jesus het Filippus geroep en vir Natanael onder die vyeboom gesien.

So sien die Here ons raak. Hy sien wie ons is en waar ons is. Hy ken ons drome en vrese. Soos Jeremia, ken die Here ons van voor ons geboorte af. En nie net ken Hy ons nie, Hy sonder ons ook af om sy kinders te wees. Hy maak bemoeienis met ons, voordat ons daarvan weet. Ons soektog is verby. Die Here het ons gevind. Hy wat sien, voorsien ook dit wat nodig is. Hy sien nog voordat iets gebeur en Hy voorsien dit wat nodig is. Jesus het Mens geword in ons gebroke wêreld om die mag van die sonde te verbreek. Die verlossing van Christus bring vrede vir ons. Ons is gevind en dit gee troos en hoop.

Mag die vrede van Christus wat alle verstand te bowe gaan, wag hou oor ons harte en verstand.

Dr Martin Jansen van Rensburg, Delmas

Share via
Copy link
Powered by Social Snap