Rigters 6: 1 – 7: 15

Gideon se verhaal is ’n verhaal van afwisselende twyfel en vertroue. Dit is ’n verhaal van menslike swakheid en beperkinge, teenoor onmeetlike Goddelike mag, liefde en geduld. Die Here roep Gideon om ’n taak te verrig, maar soos Moses van ouds stry hy met God en sê: Nee, ek kan nie, Here, ek is te swak en nietig. Die Here moet telkens eers vir hom wys dat dit werklik die Here is wat met hom praat.

Op die ou einde, toe daar niks menslik meer was waaraan hy kon vashou nie, toe daar geen kans meer was dat hy dit vir homself kon uitwerk en logies kon uitdink nie, toe die gedagte van miskien met goeie taktiek en twee en dertig duisend man kan ek dalk oorwin verdwyn het, tóé eers glo hy. Tóé besef hy wat dit is om werklik te vertrou! Gideon moes leer om te vertrou téén omstandighede in, téén oorweldigende teenstand in, téén ’n oormag in, téén onmoontlikheid in.

Gideon se verhaal is in ’n mate almal van ons se verhaal. Ons raak ook soms bang en onseker, en ons twyfel. Hierdie gedeelte wys dat ons ook kan vertrou. Ons kan vertrou dat wanneer dit met ons sleg gaan, die Here dáár sal wees om ons te troos, om ons te help om dinge te verwerk; om ons te lei om weer die lig te sien. Om blindelings te vertrou, beteken dat ons sal weet dat God met elkeen van ons ’n persoonlike verhouding wil hê. Dat God deel wil wees van elke oomblik van ons lewens.

Om blindelings te vertrou, beteken nié dat ons nooit weer sal twyfel nie, ook nie dat ons altyd sukses sal behaal nie. Wanneer ons vertrou, sal ons weet waar om weer sekerheid en vrede te vind – net by God. Ons kán vertrou dat daar vir ons hoop en uitkoms in hierdie lewe is. Niks is immers vir God onmoontlik nie!

Ds Marike van der Merwe, Beroepafwagtend

Share via
Copy link
Powered by Social Snap