Numeri 13: 17-20, 26-33

Na die wonder van die uittog uit Egipte en die seegebeure straf God die volk vir hul negatiwiteit, gekla en opstandigheid. Hulle gaan nie reguit beloofde land toe nie, hulle sal eers vir 40 jaar in die woestyn moet rondswerf. Na hierdie 40 jaar kom hulle in die Paranwoestyn aan. Is hulle nou gereed vir ’n nuwe toekoms saam met God? Sal hulle nou die regte besluite neem? Weet hulle wat God se wil is vir hul pad vorentoe? Moses moet 12 manne aanwys om die beloofde land te gaan verken; Sammua, Safat, Kaleb, Jigal, Palti, Gaddiël, Gaddi, Ammiël, Setur, Nagbi, Geüel en Hosea. Moses het Hosea (seun van Nun) ’n nuwe naam gegee: Josua. Hulle het presies gedoen wat Moses gesê het.

Hul verslag begin met ’n analise, hulle sit die feite op die tafel. Die land loop oor van melk en heuning, maar daar is ook baie uitdagings. Hoe meer hulle daaroor nadink, hoe meer besef hulle dit is menslik onmoontlik om die land in te neem. Die oormag is net te groot. Hulle versprei gerugte en glo later in hul onvermoë. Hulle sê ons is so nietig soos sprinkane. Kaleb en Josua gee egter een tree verder. Hulle stem saam met die analise, maar hulle gee die volgende tree in ’n geloofsonderskeidende proses. Hulle dink terug aan die verlede en God se pad met die volk. Ons moet die land inneem, want dit is God se wil.

Nou by my en jou Rubicon. By ons persoonlike uitdagings: Ek is met kanker gediagnoseer. Ek het my werk verloor. My huwelik is op die rotse. My kinders loop agter die wêreld aan. Ek of my kinders kry nie werk nie. My geld het opgeraak. Dit is die analise, maar is ons bereid om in die geloof die volgende tree van geloofsonderskeiding te gee? Ons behoort God in die prentjie te bring, dan is daar hoop. (Nogtans sal ek hoop, my Here en my God – hoe groot is U!) Persoonlik dink ek die grootste bate van ’n analise is om te sien hoe groot God op die einde is.

Dr Hannes Janse van Rensburg, Zuurfontein

Share via
Copy link
Powered by Social Snap