Johannes 11: 1-45
In hierdie Ek is-uitspraak sê ons Here Jesus: Ek is die opstanding en die lewe.
Jesus ontvang die berig dat Lasarus, sy goeie vriend en die broer van Maria en Marta, siek is. Jesus vertoef egter nog twee dae voordat Hy en sy dissipels na Betanië vertrek. Nie omdat Hy traag was nie, maar omdat Hy oortuig was dat dié siekte God se mag gaan openbaar, en dat Hy, God se Seun, daardeur verheerlik sal word. Die verhaal van Lasarus se opwekking is só opgeteken dat die ontknoping daarvan in die gesprek met Marta en Maria, in verse 20 tot 33, plaasvind. Marta en Maria se woorde, Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie, getuig van hul geloof en vertroue in Jesus, ook in ’n slegte situasie. In Marta se diepste pyn sê Jesus dat pyn en verlies nie die laaste woord te sê het nie. Die dood is nie die einde nie en trane is nie die finale werklikheid nie: Jou broer sal uit die dood opstaan. Jesus sê: Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?
Met die opwekking van Lasarus uit die dood, herinner Jesus ons wie Hy is. Hy is die Gestuurde van die Vader. Hy het gekom om lewe te bring. Lasarus se opwekking bevestig daarom die waarheid van Jesus se woorde. Lasarus word opgewek, sodat ons die krag van God kan sien, en kan weet die kragtige woord van God, wat tot lewe wek, is ook op ons van toepassing. Wanneer Jesus sê dat Hy die opstanding en die lewe is, word ons verseker dat hulle wat in Jesus glo, sal lewe, al sterf hulle ook. Dit is ’n kosbare belofte en troos wat Jesus met hierdie uitspraak maak. Hy is die opstanding en die lewe. Hy gee perspektief en uitkoms in tye van nood, Hy troos in tye van hartseer, pyn en smart, Hy bemoedig wanneer ons platgeslaan en moedeloos is.
Dr Rudy Denton, Potchefstroom-Studente
