Genesis 8: 1-12 (AFR2020)

Noag en sy familie en al daardie diere sit, soos party mense meen, vir meer as ’n jaar op die waters. Ek kan my indink dat hulle al begin wonder het hoe lank hulle nog so moes voortgaan. Gaan hulle vir ewig op die vloedwaters ronddryf? Het God nie miskien van hulle vergeet nie? Maar dan lees ons die eerste vers van hoofstuk 8: God het aan Noag gedink, ook aan al die wilde en mak diere wat saam met hom in die ark was.

Vir Noag kon dit dalk gevoel het of God van hom vergeet het, maar ons teksgedeelte wys vir ons die teendeel: God dink aan Noag (en die diere!), en – lees ons daarna – is aktief betrokke! God laat ’n wind (ruag, dieselfde wind wat oor die aarde sweef by die skeppingsverhaal) oor die aarde waai sodat die waters tot rus kom. Dan begin die waters terugbeweeg – en die donker dae van reën en storms is verby.

Die hele skepping, deur Noag, sy gesin en die diere, kry weer ’n nuwe begin… ’n Nuwe geleentheid om in ’n goeie en regte verhouding met God te lewe. Let wel, hierdie nuwe begin is ook ’n voortsetting. God skep nie totaal en al nuwe wesens nie. Maar met dié wat oorbly, probeer Hy weer en sluit Hy ’n verbond met Noag en die ganse skepping. God doen dit, terwyl Hy ten volle bewus is van die mens se gebrokenheid.

God onthou, en dink telkens aan ons wêreld met sy gebrokenheid en ongehoorsaamheid. Hy is so toegewyd aan hierdie wêreld dat Hy Homself vir die wêreld opoffer. Geliefdes, God wil altyd weer oor begin met ons. Hy wil in ’n verhouding met elkeen van ons wees. Daarom kan ons rustig wees in die wete: God sal altyd aan ons dink.

Ds Erika Ferreira, Bellville

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link