Johannes 3: 1-8

Nikodemus moes seker verbaas gewees het oor Jesus se uitspraak oor die nuwe geboorte. Hy, die groot leermeester, die Fariseër, een van die 70 van die Joodse Raad, moes gedink het dat dit ’n groot kompliment vir Jesus moes wees as hy Hom ’n leermeester wat van God af gekom het noem. Hy kon nie Jesus se antwoord hierop kleinkry nie, naamlik dat iemand sonder ’n nuwe geboorte onmoontlik die koninkryk van God kan sien.

Hoekom het Jesus so geantwoord? Natuurlik gaan dit oor die rede wat Nikodemus vir sy stelling gegee het, naamlik dat hy weet dat Jesus van God af kom op grond van die wonderwerke wat Hy doen. Maar om wonderwerke te sien, is nie genoeg om die koninkryk, die koningskap van God, te sien nie! Daarvoor is ’n nuwe, geestelike geboorte nodig. Dit moet meer wees as ’n geboorte uit water, uit vrugwater wat te doen het met ’n gewone geboorte. Daar moet dus ’n nuwe geestelike lewe begin wat alleenlik moontlik is deur die Gees van God.

Ons word steeds gewaarsku teen die dwaling dat God daar is waar wonderwerke vir die gewone oë plaasvind. Hoe geneig is ’n mens nie om, as dit nie goed gaan nie, te vra: Waar is God nou? Baie mense het al ervaar dat God se koningskap juis ontdek word in omstandighede waar ’n mens onder druk is; dat Goddelike gawes soos geduld en selfbeheersing ontwikkel in omstandighede waar ’n mens getoets word om geduld en selfbeheersing aan die dag te lê.

Daar is sprake van ’n nuwe lewe wanneer jy as mens ontdek dat jy anders kan dink en doen as wat jy van nature wil. Dit is dan dat jy weet dat God se Gees ’n werklikheid is. Immers is die Gees soos wind wat nie gesien kan word nie, maar tog gevolge het wat groot verandering kan bring. Deur Jesus reg te ontdek, kan die Gees wonderlike dinge in  jou denke en gedrag laat gebeur!

Dr Piet (PJ) van Staden, Emeritus

af
af
Deel met behulp van
Copy link