Psalm 122

Hoewel daar oor die samestelling van hierdie bundel liedere verskillende menings bestaan, is daar tog onderlinge ooreenkomste en verbande. Die bundel bevat individuele en gesamentlike gebede, dankliedere, klaagliedere, liedere van vertroue en van lewensinsig. So jubel die Psalmdigter in hierdie lied sy dankbaarheid uit as hy weer die voorreg het om in Jerusalem op die tempelgrond te kan staan. In Psalm 121 was hy nog op pad. In Psalm 120 onthou hy hoe hy na God geroep het toe hy ver van Jerusalem was en ook vyandigheid beleef het. Psalm 122 is gesing met die aankoms by die feesviering, of met die aanvang van die terugtog – dus ’n verwoording van dankbaarheid en vreugde dat hy saam met ander gelowiges God kon aanbid.

Hoe dit ook al sy, die punt is dat die Godstad ’n magtige indruk op hom maak. Hy kan by die tempel, saam met ander gelowiges, God se teenwoordigheid beleef en fees vier. Hy vind sy vreugde daarin dat hy kan deel in die ou-ou gebruik om God in Jerusalem by die tempel te loof en te prys. En wat meer is, in Jerusalem spreek die koning uit die geslag van Dawid Goddelike oordeel en vrymaking. Dit gaan dus om die ontmoeting met die lewende God.

Aangegryp deur hierdie grootsheid, bid hy die stad die beste seënwense toe: Mag daar vrede wees in die stad en geen teken van oorlog by die verdedigingswal nie, sodat die inwoners veilig en rustig kan wees. Hy bid dat dit, ter wille van sy broers en susters, goed sal gaan met die stad, sodat daar altyd geleentheid sal wees om God in vrede te kan aanbid en fees te vier.

Gedurende die tyd van inperking met die pandemie het ons nie altyd die voorreg gehad om saam in die erediens byeen te kom nie. Daarom moet ons nie nou die geleentheid laat verbygaan nie om saam met medegelowiges die opstanding van ons Here, Jesus Christus, te vier en God te dank dat God ons bewaar op ons pelgrimsreis deur die lewe.

Ds Japie Coetzee, Emeritus

af
af
Deel met behulp van
Copy link