Matteus 14: 34 – 15: 2

Kort nadat Jesus langs die meer die brood vermeerder het en daarna op die water na sy dissipels geloop het, na hierdie opspraakwekkende en dramatiese gebeure, het Hy en sy dissipels oor die meer gevaar en in Gennesaret aan wal gegaan. En die mense wag Hom in, by hul hordes. Hulle bring hul siekes na Hom, al die ongesteldes, en hulle smeek Hom, mag hulle net aan die soom van sy klere raak. En as hulle dit doen, word hulle gesond!

So eindig Matteus se hoofstuk 14. Dan begin hoofstuk 15 met die woorde: In dié tyd… Met ander woorde, presies in die tyd toe Jesus besig was om al hierdie wonderlike dinge te doen wat so pas deur die Evangelieskrywer beskryf is, kom die skrifgeleerdes en godsdienstige leiers na Jesus toe. Daar waar Hy besig is om te genees, pyn te verlig en vreugde te bring. Wat gaan hulle Hom vra? ’n Mens sou dankbaarheid verwag.

Maar dis nie wat ons lees nie. Hulle kom na die goed-doenende Jesus met ’n vraag: Hoekom was u dissipels nie hul hande voor ete nie? In dié tyd. Net mooi toe. Die kerkleiers se reaksie op Jesus se optredes. Rabbi, u dissipels kom nie die rituele handelinge van die wet van Moses heeltemal na nie. Hoekom nie?

Ons doen soms dieselfde. Terwyl die grote God wonderlike dinge deur ons wil doen en deur ons sy genade en liefde aan ’n desperate mensdom wil bemiddel, kibbel ons in die kerk en gemeentes oor baie sake wat van geen wesenlike belang is nie. Epifanie, het ons gister gesien, vra van ons om die Godsverskyning in Jesus met ’n lewe van getuienislewering te gaan verkondig. Ons kan dit net doen as ons onderskei waarop dit werklik aankom en met die regte dinge, die wesenlike dinge van die geloof, besig is.

Gebed

Here, help my om op die wesenlike sake van die geloof te fokus en so ’n kragtige getuie vir U te word.

Dr Gerhard Nel, Horison Roodepoort

Share via
Copy link
Powered by Social Snap