Jesaja 8: 1-4 (AFR2020)
Dit is algemeen bekend dat ’n plaas in Noordwes, Tweebuffelsmeteenskootmorsdoodgeskietfontein, die langste pleknaam in Afrikaans het. Om vas te stel wat die langste persoonsnaam in Afrikaans is, is egter ’n haas onbegonne taak. Ons weet wel dat daar geen dispuut is oor die langste persoonsnaam in die Bybel nie. Ons lees in Jesaja 8: 1 van Maher-sjalal-gasj-baz, oftewel Vinnig-buit-spoedig-roof.
In die Bybel is name nie sommer onnadenkend of toevallig gegee nie – ook nie Vinnig-buit-spoedig-roof se naam nie. Hy was ’n seun van Jesaja, en sy naam verwys na sy pa se profesie oor die verwoesting van God se volk deur ander nasies. Hulle gaan Israel en Juda plunder, en spoedig op vlug slaan met hul buit.
Maar Jesaja het nog ’n seun gehad. Sy naam was Sjear-Jasjoeb, wat beteken ’n oorblyfsel sal terugkeer (Jes 7: 3). Maak nie saak hoeveel geplunder word nie, daar is altyd hoop en redding vir hulle wat getrou en standvastig in hul geloof bly.
En daardie hoop en redding kom vandag deur ’n ander naam: Jesus. Die naam Jesus is ’n Griekse verbuiging van ’n Hebreeuse woord wat beteken God red. Sy naam is nou verweef met sy identiteit as die Messias, dit beklemtoon sy rol as redder van die wêreld, en dit dui op ons enigste hoop in ’n wêreld wat wanhopig begin word.
Anders as Maher-sjalal-gasj-baz wat die versinnebeelding van vergrype, verwoesting en gebrokenheid is, staan die naam van Jesus vir barmhartigheid, heelmaak en herstel. Die naam Jesus is die naam wat weerklink daar waar die skerwe van stukkende lewens weer aanmekaargesit word. Dit is die naam wat troos vir troosteloses bring, krag vir swakkes, waardigheid vir verworpenes, ’n uitkoms vir hulle wat vasgeloop is en ’n toekoms vir hulle wat oortuig is die beste is reeds verby.
Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en aan Hom die Naam geskenk wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elke knie sal buig … en elke tong sal bely, “Jesus Christus is die Here!” tot eer van God die Vader (Fil 2: 9-11).
Dr Johan van Staden, Sionspoort