Handelinge 8: 4-25

Die Handelinge van die Apostels vertel vir ons die verhaal van die verkondiging van die evangelie van Jesus Christus. Die apostels moes wag totdat die Heilige Gees uitgestort is voordat hulle met hul opdrag kon begin. Die verkondiging van die evangelie het ’n beroering gebring en opskudding veroorsaak. Baie mense het gelowig geword. Van hierdie gelowiges is vervolg, in die tronk gegooi en selfs aangerand.

Dit was eintlik ’n buitengewone gebeurtenis toe die evangelie in Samaria verkondig is. Die Jode het die Samaritane as gemengde volk geminag. Vir Filippus was dit ’n uitdaging om die evangelie aan die Samaritane te verkondig. Die inhoud van sy verkondiging het hulle eenparig laat aandag gee aan wat hy gesê het. Hulle het die Woord van God aanvaar. Die nuus dat van die Samaritane tot geloof gekom het, het Jerusalem bereik. Petrus en Johannes is gestuur om vir die mense te gaan bid sodat hulle die Heilige Gees mag ontvang. Nadat die apostels hulle die hande opgelê het, het hulle die Heilige Gees ontvang. Toe Simon, wat voorheen towery bedryf het, sien wat gebeur, wou hy ook graag die mag hê om hande op te lê sodat mense die Heilige Gees kon ontvang. Hy het hulle selfs geld aangebied. Maar geld kan nie die gawe van God koop nie.

Mense word gelowig waar die evangelie van Jesus Christus verkondig word. Dit is nie die verkondiger wat gelowig maak nie, maar God die Heilige Gees. Hy maak harte ontvanklik en skenk geloof. Dit is die Heilige Gees wat werk. Dit is die Heilige Gees wat ’n mens se lewe in besit neem. By die aanhoor van die evangelie, is dit die Heilige Gees wat voortdurend geloof wek en versterk. Ware geloof word deur God geskenk, in die hart vasgelê en deur die Heilige Gees se inwoning versterk en bevestig.

Gelowiges is deel van die gestuurde kerk van die Here. Ons opdrag is om met ons lewe, woorde en dade die evangelie van Jesus Christus te verkondig. Wees ’n lewende getuie van Jesus Christus oral waar jy gaan.

Ds Willem Kok, Potchefstroom

Share via
Copy link
Powered by Social Snap