Lukas 22: 49-53

Dit is onseker wat presies daardie aand, toe Jesus gevange geneem is, gebeur het. Die vier Evangelies se weergawes verskil effens in die detail. Wat ons wel weet, is dat die dissipels ontsteld was oor die nuus van Jesus se lyding en weggaan (Joh 14: 1). By die pasga-maaltyd het Jesus aan sy dissipels gesê dat hulle Hom in sy uur van nood in die steek gaan laat (Mark 14: 27). Volgens al die Evangelieskrywers het Petrus kwaai geprotesteer en belowe om by Jesus te bly. Markus vertel dat almal dit beaam het. Maar Jesus het voorspel dat een dissipel, Judas, Hom sou verraai en dat Petrus Hom drie maal sou verloën, voor die nag verby is.

Toe die gewapende soldate opdaag om Jesus gevange te neem, het Judas Hom met ’n soen verraai. Volgens die Johannes-evangelie wou Jesus se volgelinge Hom beskerm, en Petrus het die hoëpriester se slaaf, Malgus, se oor afgekap. Jesus was ontsteld oor die manier waarop sy volgelinge tot sy redding wou kom. Hou op daarmee! het Jesus gesê. Lukas vertel dat Jesus die afgekapte oor aangeraak en genees het. Jesus se liefdevolle, sagte manier van doen, het nie byval gevind nie. Al sy volgelinge het verdwyn.

Jesus se styl is vandag steeds afstootlik vir baie volgelinge. Veral as iemand die Bybel anders as ons verstaan, verval die gebod van die liefde. Dan gaan ons tekere, vloek, vervloek en veroordeel ons. Jesus sê ook vir ons: Hou op daarmee!

Om iemand ore aan te sit…

Agter veilige vierkantige sosiale skerms

ryg kerkmense genadeloos aan mekaar se derms

            … ons verdedig mos sy eer!

Ons is gereed om soos vlytige Petrusse

al die Malgusse en valse christusse

se ore… morsig… te amputeer!

Is dit hoe die rotsvaste sekeres

aan die soekende onsekeres

sy omgee-liefde demonstreer?

Heer, mag u Woord ’n staf wees om mee te gaan…

en nie ’n swaard om ore mee af te slaan…

Ds Stephen de Beer, Noordwestelike Pretoria

 

Share via
Copy link
Powered by Social Snap