1 Korintiërs 13

Tradisioneel word die liefde gereken as ’n vrug van die Gees, maar hier in 1 Korintiërs 13 praat die apostel daaroor in die konteks van die gawes van die Gees. Hy het in hoofstuk 12 gesê die gawes is nie bedoel om jou eie selfsugtige beuel te blaas nie. In plaas daarvan om te roem op jou gawes, moet jy dit gebruik om die geloofsgemeenskap op te bou.

Hoofstuk 12 sluit met die woorde: Lê julle toe op die beste genadegawes. Dan begin hoofstuk 13 met: Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is. En dit is die liefde. Ongeag hoe belangrik die geestelike gawes is, en hoeveel mense daarop roem dat hulle dit besit, sonder liefde beteken dit absoluut niks.

Gawes het net sin as dit gedryf word deur die liefde, en dan nie die liefde as ’n emosie nie, maar as gedrag. Dit is wanneer ’n mens so gegryp word deur die liefde van God dat dit jou hele menswees stempel. Dit is om deurentyd bewus te bly van hoe groot God se liefde vir jou as swak en nietige mens is, so groot dat Hy in Jesus se lewe die volheid van die liefde aan ons betoon.

Daarom probeer Paulus reguit, maar ook op ’n subtiele manier, vir die gemeente in Korinte sê dat hulle erns daarmee moet maak om ook geestelik volwasse te raak. Dit is wat hy in vers 11 bedoel: Die gelowiges moet ook geestelik volwasse word, daar moet groei wees, sodat ’n mens kan aanbeweeg. Die geestelike gawes is maar almal tydelik van aard, en sommige is ook tydgebonde. Dit kan uitgedien raak, soos die gawe van spreek in tale.

Bly bewus van jou gebrek aan kennis en insig, en hou vas aan die liefde wat alle tyd en grense oorskry. Saam met geloof en hoop bly liefde, as die grootste, die drie dinge wat jou deur alle lewensomstandighede heen dra. Miskien het die skrywer CJ Langenhoven dit die beste opgesom: Die liefde wat ek ontvang en gegee het, het my laat oorleef.

Ds Dries Beukes, Emeritus/Swartkop

af
af
Deel met behulp van
Copy link