Kolossense 3: 1-17

Dink vir ’n oomblik aan sout: Jy ken die waarde van sout, hoe dit as preserveermiddel dien of geur ontsluit. Jy weet hoe en in watter omstandighede om sout te gebruik, en jy weet ook dit verslaan. Maar jy gebruik dit nie. Dan is hierdie kopkennis nutteloos, en die sout ook. Of jy sien sout, maar jy ken dit nie. So jy gebruik dit onnadenkend en in enige hoeveelheid. Dan is dit ook nutteloos.

Wat help dit jy is ’n Skrifgeleerde wat die Bybel ken, die belydenis-skrifte en die geloofsbelydenisse enige tyd vir enige iemand kan aanhaal, maar jy verstaan nie wat die nut daarvan is nie? Jy besef nie die betekenis van die dinge wat jy so maklik lees of deel nie?

Of jy probeer elke dag ’n goeie lewe lei, jy help mense en probeer reg lewe, maar jy maak nie tyd om in God se Woord te delf nie? Jy is nie bereid om opofferings te maak nie – jy ontvlug jou geloof wanneer dit jou pas.

Afsonderlik werk woorde en dade nie – jy kan nie net weet wat in die Bybel staan, maar jy leef en verstaan dit nie. Jy kan ook nie net as ’n goeie mens probeer leef sonder om tyd te maak om die Woord van God te ontdek nie. Christus het vir ons kom wys dat woorde sonder dade arm is, en dat dade sonder God se woorde leeg is. Daarom, wanneer die skrywer vir die gemeente in Kolosse sê hulle moet strewe na die dinge wat daarbo is, beteken dit nie die dinge wat ver buite jou bereik in ’n ander dimensie is nie, dat jy moet weghardloop van jou omstandighede nie. Hy gee praktiese riglyne en raad oor hoe jou nuwe lewe as gelowige behoort te lyk terwyl jy in die aardse werklikheid leef.

Mag die Heilige Gees jou vandag die krag en onderskeidingsvermoë gee om te weet hoe om jou kopkennis en jou hartskennis te versmelt, en as ’n nuwe gelowige te leef.

Ds Joleen Marx, Welgelegen-Pietersburg

af
af
Deel met behulp van
Copy link