Psalm 95: 1-11
Psalm 95 is die inhoud van ’n aangrypende erediens. Sensitief en dogmaties korrek het die prediker die gemeente voorgegaan. Sy preek het gehandel oor die uniekheid van God as Skepper en Herskepper van Israel. ’n Mens sou aan die einde van so ’n erediens ’n Halleluja! verwag. Maar dan eindig die Psalm nie daar nie. Skielik is daar ’n radikale verandering in die trant van die Psalm. As julle vandag maar na Hom wou luister: Moenie hardkoppig wees nie… Waarom die vreemde wending in die Psalm?
Die erediens was pragtig, maar die Here het dit teen wat na die erediens gebeur. Die gebeure by Massa en Meriba word in herinnering geroep. Daar het die volk die Here ook aanbid en was daarna aan Hom ongehoorsaam. God het dit teen vormgodsdiens. Om net in naam ’n gelowige te wees, maar nie van harte nie. Om Sondag vroom te wees, maar in die week ’n lewe te lei wat nie daarmee ooreenstem nie. Jesus verwys self daarna. Hy beskryf dit as om gereeld Here! Here! te sê, maar nie die wil te doen van die Vader wat in die hemel is nie. Dit is om te hoor dat jy jou naaste moet liefhê, en dan te vra: Ja, maar wie is my naaste? Kom ons definieer “naaste”. Kom ons teoretiseer daaroor.
Tussen die teorie en die praktyk van die uitlewing van ons geloof vind daar dikwels ’n kortsluiting plaas. Ons leef in twee wêrelde: die Sondagwêreld wat sê Jy moet jou naaste liefhe soos jouself en die weekwêreld waarin ons leef volgens die beginsel Ek moet myself liefhê bo alles…
Hoe werk ’n mens die vormgodsdiens teë? Deur klein en nederig in die Here te wees, deur alleen maar ’n beroep te doen op God se genade vir jou, en dan jouself oop te stel vir die wonderlike en kragtige werking van sy Heilige Gees in en deur jou.
Gebed
Here, help my om dit waarin ek glo en wat ek bely, ook elke dag in my lewe te illustreer wanneer ek deur die krag van u Gees u wil doen. Amen.
Dr Gerhard Nel, Horison Roodepoort