Psalm 37: 3-5
In die Verre Ooste is daar ’n Chinese bamboesplant wat ’n seldsame saad dra. Wanneer ’n mens die saadjie plant, dit gereeld natgooi en versorg, dan is daar na ’n jaar nog geen teken van ontkieming nie. Eers in die vyfde jaar nadat die saadjie geplant is, steek die bamboesplant sy kop bo die grond uit en groei dit binne vyf weke tot ’n hoogte van 30 meter. Vyf jaar klink vir ons na ’n baie lang tyd, want dis juis ons gejaagdheid wat van ons sulke deurmekaar, verwarde mense maak. Solank as wat ons deur die lewe jaag, soos mense wat op vlug is, sal geluk beslis buite ons bereik bly.
Psalm 37: 3-5 sê: Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort. Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer. Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg. Vertroue en geduld loop hand aan hand. Die saad wat ’n ouer saai in die opvoeding van sy kind, sluimer soms vir jare onder die grond. ’n Mens kyk rond en jy wonder en raak ongeduldig, want die saadjie wil nie ontkiem nie. Jy het natgegooi en aangedra, en jy het ingebou en mooi na die saadjie gekyk. En dan eendag, sonder dat jy dit verwag of voorsien, en dink dit kan nie meer gebeur nie – jy het al moed opgegee – dan skiet dit op en dra vrug.
Kom ons hou op met jaag en gee die Here ’n kans om sy doel met elkeen van ons se lewens te bereik, al neem dit soms vyf jaar en langer om te ontkiem, soos die vreemde bamboessaad uit die Ooste.
Gebed
Here, laat ons onthou dat u tyd nie ons tyd is nie. Dat U ’n plan en ’n doel met elkeen van ons se lewens het. Wil U u doel met elkeen van ons bereik. Gee ons ’n perspektief van geduld en lankmoedigheid. Amen.
Ds Lisa-Mari Prinsloo, Centurion-Oos
