Handelinge 19: 23-32

Dit was seker vreesaanjaend toe die skare onophoudelik skreeu: Groot is Artemis van die Efesiërs! Hoe bly ’n mens in sulke omstandighede rustig? Paulus was nie bang nie. Paulus het geweet wie die werklike vyand was. Om energie op die regte manier te gebruik, is dit noodsaaklik om te weet wie die eintlike vyand is.

Was die skare skreeuende mense die regte vyand? Vir seker nie. Die meeste het nie geweet hoekom hulle daar bymekaar was nie. Hulle was duidelik pionne van ’n groter mag. Dit was beslis ook nie die godin Artemis nie! Watter godin wie se tempel sy betekenis kan verloor en wat van haar grootheid berowe kan word, het enige mag? Demetrius, die silwersmid, was duidelik die oorsaak van die hele opskudding. Hy het gesorg dat die skare opgesweep word om te skree vir sy bedryf, en toe kon hy tevrede agteroorsit. Tog was Demetrius nie so in beheer as wat hy gedink het nie. Hy was ’n gevangene van ’n groter mag. Hoewel hy goed geweet het dat gode wat met hande gemaak word geen gode is nie, was hy nie na ware sekerheid op soek nie. Hy was ’n werktuig van die bose wat die evangelie se gang wou stuit.

Paulus bly kalm. Hy mors nie sy energie op skyngevare nie, juis omdat hy onthou het wat op Golgota gebeur het.  Daar was immers ook ’n ordelose menigte met organiseerders wat op hul beurt instrumente in die hand van die bose was. Wat daar na ’n oorwinning vir die bose gelyk het, was toe die grootste nederlaag van alle tye.

Word baie van ons spanning en moegheid nie veroorsaak deurdat ons energie verbruik op verkeerde vyande nie? Soms is die skreeuende menigte, die ongemaklike mens op my pad en die slegte omstandighede wat my soos ’n mislukking laat voel, nie die regte vyand nie. Met die perspektief van Golgota kan ons nuut dink oor onsself: kind van God, oorwinnaar wat in sy hand veilig is en derhalwe sy werktuig is.

Dr Piet van Staden, Emeritus

af
af
Deel met behulp van
Copy link