Spreuke 2 (AFR2020)
Dié hoofstuk sluit aan by die eerste hoofstuk deur weer te verwys na die kern van wysheid – ontsag vir God. Dit verwys ook na die teenoorgestelde, naamlik dwaasheid. Dwaasheid word uitgebeeld as verleiding (Spr 1: 8-19 en 2: 12-15) en selfs as ’n verleidelike vrou (2: 16-19). Die twee aspekte word in kontras teenoor mekaar gestel deur die voordele van wysheid teen die nadele van dwaasheid af te speel.
Die belangrikste gedeelte in hierdie hoofstuk is verse 5-6. Daarin word gesê dat wysheid ’n gawe van God is. Dit is nie iets wat die mens kan aanleer of verwerf nie, maar die mens kan dit by God vind, deur voortdurend te soek daarna en jou hart daarop te rig. God gee wysheid; wysheid gee insig in ontsag vir God.
Ons het gister gesien dat ontsag vir God neerkom op eerbied en verwondering wat slegs moontlik is binne ’n verhouding met God. Ontsag is ’n spontane reaksie op God se genade en God se werk in gelowiges se lewens. ’n Verhouding wat gewortel is in erkentlikheid en geanker is in God se genade, is ontsag vir God.
Wanneer ons in so ’n verhouding is, met ons oë gerig op God en diep bewus van ons afhanklikheid, wil ons nie anders nie as om ons weë te rig na God se wil. Dan getuig ons dade en optrede van ’n verhouding met God. Dan leef ons anders as die wêreld, nie sodat ons gered kan word nie, maar omdat ons reeds gered is. Omdat ons leef uit God se genade, daarom getuig ons dade van God se liefde.
God se genade rig ons dade. God se liefde dring ons tot liefde vir ons medemens; so word God se werk in die kerk en in die wêreld sigbaar. Ons word sy ligdraers, ons verteenwoordig God se hande en voete in die wêreld.
Ons wil U wy ons hele lewe, U volg waar U ons ook mag lei –
aan U, o Here, hoog, verhewe, en aan u diens steeds toegewy.
Spreek deur ons woorde, rig ons dade; Voleinder, gee dat deur u krag
die heerlik’ werk van Gods genade in ons volbring word dag na dag!
(Gesang 504: 5)
Prof Ananda Geyser-Fouché, Universiteit van Pretoria