Filippense 4: 4-7

Dikwels ervaar ons omstandighede wat nie ideaal is nie. Hierdie omstandighede maak normaalweg inbreuk op jou innerlike vrede. Dit ontstig ’n mens en neem jou denke in beslag. Dit kan werkverwant wees, of ’n finansiële krisis in jou kring, of gesondheidsprobleme. Elke huis dra immers die een of ander kruis. Kundiges beveel allerlei oplossings aan om jou innerlike vrede te bevorder. Dit kan wissel van chemiese middels soos slaaptablette en alkohol, tot gereelde oefening en spesiale diëte.

Die apostel Paulus bevind hom in die tronk toe hy hierdie kosbare woorde aan die gemeente in Filippi skryf. Die omstandighede kon dus kwalik erger wees. Selfs in hierdie haglike omstandighede, lewe daar positiewe gedagtes in sy gemoed. Ons vind trouens ’n vreemde kalmte by hom midde-in sy omstandighede. Die rede hiervoor was dat sy hart ten volle aan die Here behoort het. In so ’n mate dat sy lewe steeds met vreugde en dankbaarheid gevul was. Hy het die oog op Jesus Christus gerig gehou, byna onbewus van dit wat menslikerwys sy lewe bemoeilik het. Hy roep sy broers en susters in die geloof op om inskiklik te wees, om ruimte vir mekaar te skep en om so op te tree in die wêreld dat elke lofwaardige saak deel van hul lewe sou wees.

Die hulpmiddel in hierdie skynbaar onmoontlike droom was gebed. Wanneer ons al die begeertes van ons hart en die strewe na ware naasteliefde met die Here deel, kan dit byna nie anders nie as dat daar ’n innerlike vrede, wat ons menslike denkvermoë en ons vrese by verre oortref, oor ons sal spoel. Die verhoudingsprobleme en die negatiewe omstandighede sal dalk nie soos mis voor die son verdwyn nie, maar daar sal kalmte in jou hart leef wat jou verstand te bowe gaan.

Gebed

Here, ons kniel in diepe afhanklikheid voor U omdat ons omstandighede dikwels oorweldigend is. Lei ons deur u Gees om u genade en goedheid te sien en die fokus weg te skuif van die wêreldse dinge. Amen.

Ds David Barnard, Magaliesmoot

af
af
Copy link