Jesaja 26: 1-6
Ons smag na vrede – dat daar rustigheid in ons harte sal wees. Ja, ons smag na die wete dat ons veilig is. Die afgelope paar jaar het ons geleer dat die wêreld waarin ons leef, ver is van vreedsaam of veilig.
Met die uitbreek van die Covid-pandemie het ons lewens nie tot stilstand gekom nie – al het dit soms so gevoel. Maar alles het verander. Ons kon nie ons geliefdes in hospitale of plekke van versorging besoek nie. Gaan kyk weer na die foto’s wat jy gedurende 2020 en 2021 geneem het. Onthou jy nou? Almal het maskers gedra. En, daardie ongemaklike angstige gevoel in jou binneste… Maar jy hoef nie in die middel van ’n wêreldwye pandemie te wees om oorrompel te word deur dinge wat jou veiligheid bedreig en jou van jou vrede beroof nie.
Die gevolge van ons sonde – oorlog, misdaad, gesondheidskwessies en vele meer – is so oud soos die mensdom self. Bedreigings vir ons veiligheid en die afwesigheid van vrede is ’n oeroue werklikheid. Maar kom ons bring hierdie versugting na vrede terug na my en jou toe, hier en nou. Hoe kry ons die vrede wat ons so begeer as die lewe allesbehalwe vreedsaam is?
In Jesaja 26: 3 en 4 ontvang Israel ’n belofte van God – vrede en voorspoed. Jesaja skryf: Gee aan hulle vrede en voorspoed, Here, want hulle het hulle vertroue op U gestel. Vertrou altyd op die Here, want die Here God is ’n veilige toevlug. In die Hebreeus word vrede beklemtoon – gee aan hulle vrede vrede – dus volmaakte vrede.
Ware vrede is nie iets wat ons optower nie. Ware vrede kom van God. Hy gee volmaakte vrede wanneer ons op Hom vertrou. Hierdie vrede gaan alle verstand te bowe. Die martelare kon hul dood blymoedig in die oë kyk vanweë hierdie volmaakte innerlike vrede. Ware vrede is ’n geskenk van Jesus. Omstandighede bepaal dus nie ons belewenis van vrede nie. Vertrou dus altyd op die Here, want in die Here het jy vir ewig ’n veilige plek. Vrede vir jou!
Ds Errol Sheppard, Rietspruit
