Psalm 8: 4-5
As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ’n plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?
Die begrip “ruimte” wat ons gebruik, verwoord die idee dat die donker ruimtes bo die aarde leeg is. Die beelde van die teleskoop het dit verander, want buite die donkerte van ons eie sonnestelsel met sy enkele planete, het beelde van lig van miljoene ander sonnestelsels verrys.
Dink vandag saam met hierdie beeld, oor al die sonnestelsels, aan jou eie geloof in God as Skepper van die hemel en aarde en hoe ons vandag oor God se grootheid dink. Vergelyk dit met die grootheid van die wêreld se grootste koninkryke waarvan daar vandag miskien net klippe oorgebly het en waarvan die magtige heersers al lank vergete is. En dan hierdie groot gedagte.
Alhoewel daar soveel dinge is wat ons nie weet of kan sien nie, kom God se grootheid oor duisende jare in verwondering na ons toe. En terwyl ons in verwondering leef, breek diep geheimenisse oor die lewe van God na ons toe deur. As dit dus voel of jy iewers jouself in die lewe verloor het, of jy sukkel om sin te maak van wat alles om jou aan die gang is, gaan staan vanaand buite en kyk na die sterre van ons eie sonnestelsel en verwonder jou aan dit wat ook nog daarbuite lê – wat jy nie kan sien nie – en beleef hoe dieselfde Skepper van hemel en aarde aan jou die gawe van verwondering en lewe gegee het.
Gebed
Here, ek dank U vir hierdie aarde. O, Here, bewaar my daarvan dat ek aan die skoonheid van u skepping ooit so gewoond sal raak dat dit my nie meer roer nie. Amen.
Ds Lisa-Mari Prinsloo, Centurion-Oos