Psalm 3: 

Wanneer jy praat met mense wat slegte nuus oor hul gesondheid of oor hul toekoms ontvang het, wat sê hulle? Nou moet ek my heinings gaan snoei. Ek het daardie plastiese chirurgie nou lank genoeg uitgestel. Ek moet nou daardie verbeterings aan my huis begin doen. Nee, natuurlik sê hulle nie dit nie. Hulle praat oor hul familie en vriende. Hulle kry die mense vir wie hulle lief is so gou moontlik bymekaar. Hulle dink oor maniere om slegte verhoudings te herstel. Hulle praat oor die dinge wat regtig saak maak. Lyding en seerkry doen dit aan ons.

Dit dwing ons om te fokus op die dinge wat regtig saak maak en waardevol is. Dit dwing ons om al die onnodige dinge in ons lewe uit te skakel. Daar is wonderlike skatte wat deel is van elkeen van ons se samestelling. Dapperheid. Integriteit. Lojaliteit. Liefde. Deernis met ander. Dis deel van elkeen van ons se menswees. Somtyds is dit juis ons lyding en seerkry wat ons daarby uitbring om weer hierdie wonderlike eienskappe te herontdek.

Is dit nie ’n wonderlike eienskap van God dat Hy jou jou kop laat optel nie? Psalm 3: 4 sê dit mooi: God herstel jou eer en aansien. Aan hierdie Psalm het Dawid vasgehou toe hy van sy rebelseun Absalom gevlug het. In vers 6 bid hy ’n oggendgebed: Hy het die nag oorleef. God sorg vir hom. God se sorg bly. Danksy die wonder van God se sorg kan jy jou kop optel, want die nag gaan altyd verby. God werk daar waar ons elke dag met die gewone dinge besig is. Hy is dáár waar ons daagliks sukkel om ons begrotings te laat klop en ons verantwoordelikhede na te kom. God voorsien elke dag wat ons nodig het om van te lewe. Hy is die Here wat redding bring. Hy is my Here.

Dr Sanrie de Beer, Philadelphia/Bybelgenootskap van Suid-Afrika

af
af
Deel met behulp van
Copy link