Lukas 6: 37-42

Jesus leer sy dissipels: Moenie regter speel oor ander nie. Die bepaling van skuld, straf en vonnis is die taak van die regter. Die mens is nie regter nie, maar skuldenaar. Ons durf nie na mekaar kyk met die oog van die regter nie, want ons het self nie rigting in die lewe nie en ons ver­staan meestal ook nie God se rigting nie. Om God se rigting te verstaan, is ’n voortdurende ontdekkings­tog in die lewe, want ons visie is beperk. Ons is eintlik vir alle doeleindes blind oor reg en verkeerd, sê Jesus. Hoe kan jy wat self blind is dan ’n ander, wat ewe blind is, probeer lei?

Hy gee ook die rede waarom ons nie regter durf wees nie. Ons kyk net uit een hoek, en dit is die hoek waaruit ons ander se foute raaksien. Jesus se mooi beeld is: Jy kyk om die splinter in ’n ander se oog raak te sien wat hom of haar skeef laat kyk, maar jy besef nie dat jy ’n balk in jou eie oog het wat jou die groter oortreder maak nie. Begin by jouself. Werk aan jou eie gebreke en tekortkominge. Leer ken jou geestelike ruimte en die struikelblokke van jou eie swakhede. Dan eers sal jy in staat wees om ander te help. Nie te veroordeel nie – te help! Soos God ons help.

Dit is hier waar die uitspraak oor die leermeester en leerling verstaanbaar word. ’n Leerling se kennis is gebrekkig en groei gedurende die onderrig van die leermeester. ’n Leerling kan nie ander leerlinge of die leermeester beoordeel nie. Selfs wanneer ’n leerling volleerd sou wees, is hy of sy maar gelyk aan die leermeester.

Kom ons leer dan uit hierdie gedeelte dít: Kyk met ’n oog wat vryspreek en nie veroordeel nie; gee met oorgawe; haal die balk uit jou eie oog voor jy ander probeer help met hul splinters. So raak ons tuis in ons geestelike ruimte, sodat ons met oorgawe kan leef en ander kan help.

Dr Piet van Staden, Stellenbosch/Worcester

af
af
Deel met behulp van
Copy link