Psalm 127: 1

As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs. As die Here nie deel is van ons alledaagse werk nie, nie deel is van ons huis en ons gesinslewe nie, nie deel is van ons bou aan God se koninkryk nie, kan ons ons dalk morsdood werk en op die ou einde agterkom dat alles tevergeefs was.

Sonder die Here sal ons bouwerk swak wees, asof ons soos twee van die drie varkies met strooi, stoppels en stokkies gebou het. Die bouwerk kan dalk makliker wees en aanvanklik mooi lyk, maar dit sal geen ewige waarde hê nie. Die geringste ou windjie van verandering sal dit omblaas. Aan die ander kant, as die Here Jesus die fondament is, die hoeksteen is, dan bou ons aan ’n huis wat alle storms kan weerstaan. Dit sal sterk, mooi en duursaam wees en alle toetse en storms kan weerstaan.

Ons moenie tyd mors met nuttelose bouwerk wat ons uit eie krag probeer doen nie. Ons moenie halfpad ophou nie, ons moet deurdruk en altyd bou tot eer van God en in afhanklikheid van Hom.

Mag hierdie maand wat vir jou voorlê, ’n maand van seën en voorspoed wees in al die “bouwerk” wat jy aanpak.

Genadige Vader in die hemel, ons taak en verantwoordelikheid is om te bou deur die wêreld in stand te hou en te versorg. Help ons asseblief daarmee. Ons moet ook bou aan u koninkryk – help ons om elke dag tot eer van U en in belang van mekaar te lewe. Amen.

Dr Hannes Beukes, Emeritus/Morgenzon

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link