Rigters 2: 6-23

Die volk Israel het in die Bybel ’n belangrike rol gespeel. Nog belangriker is die rol wat God gespeel het in die lewe van Israel. Die verhaal van die Bybel handel juis oor hierdie pad wat God met sy volk geloop het. In die tyd toe Jesus op aarde geleef het, het Hy gedurig gepreek en gepraat oor die koms van die koninkryk, maar nêrens het Hy ooit gesê wat hierdie koninkryk is of wat die definisie van hierdie koninkryk is nie. Die rede daarvoor is dat die mense in die tyd toe Hy opgetree het, almal geweet het waarvan Hy praat – hulle het gedurig met mekaar gepraat oor hoe God sy koninkryk sal laat aanbreek.

Die probleem by Israel het ontstaan toe hulle nie meer God se soewereine (koninklike) mag in hul lewe wou aanvaar nie. Hulle wou gehad het dat God met krag vir hulle sal voorsien in alles wat hulle begeer en nodig gehad het, maar hulle wou nie meer ondergeskik wees aan God se wil nie. Hulle wou eerder op hulself staatmaak. Dit was die fout van Israel – God moes net vir hulle goed wees en voorsien wat hulle nodig het, maar hulle was nie bereid om God te dien met oorgawe en nederigheid en respek nie. Die verhale in die boek Rigters getuig van hoe die volk gedurig hul eie wil wou volg.

Het ons moontlik ook in ons lewe van God net ’n bysaak gemaak? Ons pleit gedurig by God om ons tog net te bevry van allerhande dinge in ons lewens: geweld, droogte, armoede, my oortrokke bankrekening, daardie persoon wat my te na gekom het. Ons het so gewoond daaraan geraak om te eis wat God ons moet gee, dat ons nie meer bereid is om te hoor wat God se wil is nie. God wil vir ons bevryding gee, Hy wil ons sy genade skenk, maar God eis ook van ons ’n lewe van geregtigheid, ’n lewe wat daarvan getuig dat ons aan Hom behoort.

Ds Martin Meyer, Secunda

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link