Efesiërs 1: 15-23

Skeptici vra graag na bewyse van Jesus se opstanding. Paulus verwys in sy gebed aan die gelowiges in Efese na die geweldige groot krag wat Jesus Christus uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde krag van God wat Christus uit die dood opgewek en Hom aan God se regterhand laat sit het. Dieselfde opstandingskrag is ook in ons as Christene aan die werk. As jy na bewyse vir die opstanding soek, kyk na die kerk.

Kom ek gebruik ’n beeld. Ons ken almal elektrisiteit. Gestel daar word, iewers versteek in ’n oerwoud, inboorlinge ontdek, wat niks anders as vuur ken nie, en ons wil vir hulle, nadat ons hul taal onder die knie gekry het, van elektrisiteit vertel. Eerstens gaan ons vir hulle verduidelik dat dit iets is wat ons nie kan sien nie. ’n Mens kan in boeke daarvan lees en jy kan stroombaandiagramme bou soos in ’n wetenskapklas. Onthou jy nog die battery en die liggies in serie of parallel gekoppel? Jy kan vertel hoe krag by ’n kragstasie opgewek word, van ’n substasie, ’n transformator en kraglyne wat die elektrisiteit aanbring.

Jou beste verduideliking sal waarskynlik geen indruk maak nie, maar neem hulle na ’n huis een donker nag en skakel die ligte aan, en kyk dan die reaksie. Sê vir hulle: Kyk, dit is wat elektrisiteit vir ons kan doen! Gaan wys hulle hoe ’n stad se liggies van ver af lyk. Wys vir hulle hoe elektriese stowe werk, dat elektrisiteit jou televisie, radio, rekenaar en grassnyer laat werk. Laat hulle selfs ’n ligte skokkie ervaar en kyk hoe hul ontsag toeneem vir dit wat ons elektrisiteit noem. Wat sal die meeste oortuig? Teorie oor elektrisiteit, of die praktiese werking daarvan?

Het die gelowiges in Efese vanuit ’n opstandingskrag gelewe? Paulus se gebed begin met die woorde: Daarom, vandat ek gehoor het van julle geloof in die Here Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges, hou ek nie op om God vir julle te dank nie. Sou hy God vir die kerk vandag ook dank?

Dr André Ungerer, Hervormde Teologiese Kollege

Share via
Copy link
Powered by Social Snap