Markus 6: 30-35, 53-56

Ons het verskillende beelde en idees van Jesus in ons gedagtes wanneer ons die Evangelies lees. Wanneer ons aan Jesus dink, kan ons nie anders nie as om die wonderwerke en die genesing en die gelykenisse diep binne ons te voel. Die een ding wat ons dalk nie altyd besef of aandag aan gee nie, is die feit dat daar so baie van Jesus verwag is tydens sy bediening.

Daar word gedurig van Jesus gevra om betrokke te wees, om daar te wees. In vers 31 lees ons dat daar baie mense was wat gekom en gegaan het. Mense het verwag dat Hy al die siekes moes genees, so hulle bring die siekes nader. Mense het verwag dat Jesus hulle moes voed, so hulle wag in spanning rondom Hom om gevoer te word. Mense het Jesus van dorp na dorp gevolg om in sy teenwoordigheid te wees en te ervaar waarmee Hy besig is. Mense het verwag dat Jesus die storms moes stil maak, en Hy doen dit. Daar is verwag dat Hy die mense moes leer om dissipels te wees, en Hy doen dit. Daar is verwag dat Jesus die mense moes leer om lief te wees vir God en vir mekaar, en Hy doen dit. Daar word so baie van Jesus verwag, en Jesus oorskry alle verwagtinge, oor en oor.

Ons moenie vaskyk teen almal se hoë verwagtinge van Jesus of in Jesus se besige dagboek nie. Wat ons eerder moet raaksien, of waarop ons eerder moet fokus, is die feit dat Jesus aanhoudend, oor en oor, vir almal tyd gemaak het. Jesus het gedurig tyd gemaak om by almal stil te staan en saam met hulle te wees. Daar aan die kruis bevestig Jesus hierdie tyd en liefde vir ons elkeen. Die kruis is vir elkeen van ons die teken dat Jesus daar is, en altyd daar sal wees.

Ds André Steinmann, Piet Potgieter

Share via
Copy link
Powered by Social Snap