Kolossense 3: 18-25

Een van die gebiede waar die nuwe lewe natuurlik moet deurbreek, is in die huisgesin. Voordat ons dit bespreek, eers twee belangrike sake as agtergrond. Eerstens, families in die Romeinse Ryk was streng hiërargies gestruktureer. Die vader was die belangrikste, gevolg deur die oudste seun. Daarna ander seuns, die moeder, dogters, en laastens die slawe. Tweedens was hierdie hiërargie deur eer en skande aangedryf. Alle persone bokant jou moes geëer word. Skandelike of skadelike optrede teenoor meerderes deur minderes is swaar gestraf.

Teen hierdie agtergrond kan ons Paulus se siening oor die huisgesin waarneem. Hy sê, eienaardig genoeg, nie dat mans en vroue gelyk is nie, ook nie dat slawe onmiddellik vrygestel moet word nie. Hy pleit wel vir baie meer regverdige en goedgesinde verhoudings tussen die lede van die huisgesin. Diegene met mag (elke keer mans) moet ’n sagter benadering teenoor ondergeskiktes hê. Sy betoog is dus op mans gefokus.

Dus moet mans nie met bitterheid teenoor hul vrouens optree nie. Vaders moet hul kinders ook nie aanhoudend slaan nie [my eie vertaling na aanleiding van Euripides, ’n Griekse outeur], sodat hulle nie moedeloos word nie. Base moet hul slawe ook billik en regverdig behandel. Elke keer word dan van die mindere verwag om met die regte optrede te antwoord. Vroue moet onderdanig wees, kinders gehoorsaam, en slawe hardwerkend. Paulus se totale betoog oor die huisgesin is op liefde, respek en goedgesindheid teenoor mekaar geskoei. Die meerderes en minderes moet mekaar in ag neem. Op hierdie manier wil hy ’n huisgesin skep wat in harmonie met mekaar lewe.

Gelukkig is alle mag vandag nie meer in mans gesentreer nie. Die Christendom het al ’n baie lang pad geloop om aan alle mense, veral minderes, ook hul plekkie in die son te gee. Hoe behandel ons minderes in ons eie huisgesinne, werksituasies en gemeentes? Kom ons dink veral aan diegene wat nie dieselfde ras, politieke oorwegings, geslag en seksuele voorkeure as ons het nie.

Prof Pierre Jordaan, Wonderfontein

af
af
Deel met behulp van
Copy link