1 Korintiërs 6: 12-20

Behandel ons ander se liggame as ’n heilige plek waar God tuisgaan? Hoe gebruik ons ons eie liggame vandag? Dink vir ’n oomblik aan jou eie lewe.

Paulus skryf aan die gemeente in Korinte omdat hy te hore gekom het van die seksuele wangedrag onder hulle. Hoewel dit aanvanklik wil voorkom asof die doel van die gesprek is om individuele sonde te bekamp, gaan dit oor baie meer as dit. Paulus gee vir hulle ’n nuwe perspektief op die liggaam. Hulle was onder die indruk dat die liggaam van die siel geskei is, dat geloof net oor die gees handel, en daarom kan hulle met hul liggame doen net wat hulle wil. Paulus dink vanuit die Ou-Testamentiese agtergrond waarvolgens die mens ’n eenheid is. Die hele mens is die tempel van God, nie net ’n deel daarvan nie. Wanneer hulle die liggaam misbruik, maak hulle die Heilige Gees wat in gelowiges woon deel daarvan. Dit is waarteen Paulus hom uitspreek.

Die Korintiërs het ook ’n wanopvatting gehad oor die Christelike vryheid – hulle het dit gebruik as ’n geleentheid om sonde te doen en sonder perke te lewe, veral wanneer dit kom by die liggaam. Paulus sê die vryheid in Christus is onderhewig aan die beginselvraag of iets jou verhouding met God en die gemeenskap sal bevorder of belemmer, en of dit jou sal verslaaf of nie.

Hy het liggaamlik vir ons sonde gesterf, sodat ons liggaamlik vir die Here kan leef. Ons is duur gekoop. Jesus se opstanding en sy verlossingswerk het beslis ’n effek op die manier waarop ons liggaamlik leef. Wat beteken dit vir jou?

My gees, my siel, my liggaam wy ek aan U, o Heer.

Ek lê myself as offer gewillig voor U neer.

My hart is op die altaar, en wagtend op u vuur;

wagtend, wagtend, wagtend, ja, wagtend op u vuur.

(VONKK 146)

Ds Elmien Shaw, Swartkop

af
af
Deel met behulp van
Copy link