Matteus 6: 25-34

Bekommernis is heeltyd deel van ons lewens. Wel, vandag in hierdie kort Bybelstudie of boodskap wil ek vra: Wat doen jy met die bekommernis in jou lewe?

In Matteus 6: 25-34 herhaal Jesus drie keer hierdie opdrag: Moenie bekommerd wees nie. Dis die reël. Daar is ’n verwagting om nie bekommerd te wees nie. En dan gee Jesus drie redes waarom ons hierdie bekommernis-aksie in ons lewe kan stop.

Hy is die Meester. Hy is in beheer van alles. In hierdie selfde hoofstuk sien ons dat Jesus die dissipels leer van vertroue. Moenie skatte op die aarde bymekaarmaak nie, en ons kan nie twee Meesters, vir Mammon en vir God, aanbid nie. Ek dink bekommernis neem toe wanneer ook ons nie kan bely dat Hy in beheer is nie. Ons moet weer vertrou.

Ons leer ook Hy is die Vader. Kyk veral na vers 26. Kyk na die voëls in die lug. Hoe sorg Hy nie vir hulle nie. My vrou het die geneigdheid om die gordyne oop te trek en ’n voëltjie te soek. Dit het nog altyd vir haar die teenwoordigheid van God voorgestel. Die teks leer ons dat as God so sorg vir die voëltjies in die lug, hoeveel te meer sorg Hy nie vir ons nie?

Ons toekoms is veilig in sy hande. Ons gaan nie ’n dag byvoeg by ons lewens deur bekommerd te wees nie.

Moenie dat die teenwoordige lamgelê word deur die vrese vir môre nie. Ek dink die beginsel is: Moenie bekommerd wees nie! En die antwoord op die vraag hóé, is bly besig!

Hoe kan ons in hierdie tyd besig bly? Bid! In dieselfde hoofstuk gee Jesus vir ons ’n model vir wanneer ons bid. Hou aan bid. God is besig in jou lewe. Kom ons hou moed! Trek die gordyne oop en sien hoedat die voëls nie uitskree in hopeloosheid nie. Nee, hulle roep eerder uit in sang: Ons God is in beheer! En Hy hou ons in sy hand.

Dr Hein Delport, Swartkop

af
af
Deel met behulp van
Copy link