2 Korintiërs 8: 9
Sou jy die rykdom wat God vir jou gee, opgee vir iemand anders? Sou jy op straat gaan bly en jou huis vir ’n hawelose gee? Sou jy jou motor se skuld kon dra, en in dieselfde asem jou motor vir iemand wat duimgooi, weggee? Sou jy die salaris wat jy verdien vir ’n karwag gee?
Dit is maklik om jou voor te doen as ’n vrygewige mens as jy jou kleingeld by Checkers vir die karwag gee, maar om jou rykdom prys te gee, is amper ondenkbaar. Daar is sekerlik niks moeiliker nie as om arm te raak sodat ander ryk mag wees. As jy vandag hierdie lees, kan jy dadelik gerus voel, want dit word nie van jou verwag nie. Dit is bloot opvallend om te besef dat jou rykdom baie meer vir jou beteken as wat jy besef. Dat die dinge in ons lewens nie sommer opgegee word nie.
Dit is daarom ’n merkwaardige openbaring om te besef dat in al die rykdom wat God gehad het, Hy ter wille van ons arm sou word. Hy gee die glorie van sy troon, die lof van die engelekoor en magdom van die hemel op vir ’n krip in ’n stal wat vir diere gemaak is. Hy gee die rykdom van sy majesteit op vir die kruis by Golgota. Hy gee dit alles op, sodat jy kan leef, sodat jy die rykdom van sy heerlikheid kan vind en die rykdom van die ewige lewe kan beërwe.
Dit is hoe die genade van God lyk. Genade is nie maar net ’n losprys vir jou sonde nie, maar God se gewilligheid om alles prys te gee sodat jy die rykdom van God kan vind. Ons het deur sy armoede ryk geword. Die omvang van hierdie genade vind ons in die koms van Jesus na die aarde. Jesus is gebore in ’n voerbak waaruit die plaasdiere sou eet. Die Koning, gebore in ’n stal. Hy word arm sodat, aan die einde van alle dinge, ons ryk mag wees in sy genade.
Ds Juan de Beer, Parys
