Lukas 1: 42-45

Elisabet was reeds swanger toe Maria haar kom besoek het. Maria het Elisabet waarskynlik gaan besoek omdat sy by die engel van die Here gehoor het dat Elisabet swanger is. Miskien wou sy ook na iemand toe gaan wat net soos sy uitermate geseën is om instrument in die hand van God te wees vir die redding van die wêreld. By Elisabet sou sy ’n begrypende oor vind, veral in die lig daarvan dat haar swangerskap vir haar en haar verloofde, maar ook vir die gemeenskap, soveel probleme sou veroorsaak.

Na vier of vyf dae se reis, kom sy aan by die huis van Sagaria en Elisabet daar in die bergstreke suid van Jerusalem. Toe Maria by Elisabet aankom, het die kindjie in Elisabet se moederskoot beweeg, en onder leiding van die Heilige Gees sing Elisabet ’n loflied. Haar lied is die eerste loflied of Adventlied wat wys op die Kindjie Jesus wat in die moederskoot van Maria gevorm sou word en wat as Here aangeroep sou word. Geseënd is jy onder die vroue en geseënd is die vrug van jou moederskoot! Waaraan het ek dit te danke dat die moeder van my Here na my toe kom?

Elisabet is die eerste sangeres op aarde, van wie ons weet, wat gesing het oor die Here, oor die Kind in die moederskoot van Maria, oor die Kind, die Verlosser wat gebore sou word. Daar is geen sweempie van jaloesie te bemerk in die optrede en woorde van Elisabet nie. Geen wedywering of nyd wat sigbaar word wanneer sy besef dat God Maria gekies en geroep het om die Verlosser in die wêreld gebore te laat word nie. Sy openbaar gewilligheid en ’n onderdanigheid aan God, en is selfs dankbaar dat sy ook ’n rol mag speel om haar kind, wat wegbereider vir Maria se Kind sou wees, in die wêreld te bring.

Kom daar uiteindelik dan tog die vrede op aarde waarna mense so lank al uitgesien het? So word Elisabet vir ons almal ’n voorbeeld van hoe ons vandag as volgelinge van Jesus behoort op te tree en te lewe as gelowiges.

Ds Arie Kuyper, Villieria

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link