Matteus 2: 13-23 (AFR2020)

Watter kille ontvangs het daar vir God se geskenk aan die wêreld gewag! Volgens Matteus se weergawe wou die wêreld – by name koning Herodes en die geestelike leiers – van die begin af van die Kindjie ontslae raak. Dit het omtrent ’n stryd tussen die heerskappy van God en die heerskappy van die aardse heersers tot gevolg gehad. Dit begin met die belangrike sterrekykers uit die Ooste se besoek om die Koningskind wat gebore is, te vereer. Maar Herodes wil die sterrekykers om ’n ander rede gebruik: Wanneer julle Hom gekry het, laat my weet (vers 8).

God se reaksie daarop kom in die eerste droom na vore: Moenie na Herodes terugkeer nie. Gaan met ’n ander pad langs terug na jul land! Ja, God se plan lyk anders as die wêreldheersers se plan. Herodes se volgende skuif is: Maak al die seuntjies van twee jaar en jonger dood! Maar daar was ’n tweede droom, ’n boodskap vir Josef: Maak gereed, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte (vers 13). Herodes se plan misluk weer.

Uiteindelik het Herodes gesterf. Josef en sy gesinnetjie kon terugkeer. Maar alles was nog nie verby nie. Tot sy skok moes Josef hoor dat Argelaos nou oor Juda regeer, iemand wat net so wreed was soos sy vader. Dit lei tot die derde droom: Moenie na Betlehem en Juda terugkeer nie, Josef, gaan na Galilea waar Herodes Antipas regeer. Argelaos kon die Kindjie wat nou in Nasaret grootword, ook nie in die hande kry nie.

Selfs na Jesus se oorwinning oor die graf het die pogings om Hom en die evangelie van sy verlossing te vernietig, steeds nie opgehou nie. Dink maar aan moderne argumente soos al die swaarkry op aarde beteken daar kan nie ’n God van liefde wees nie en jy glo aan ’n mite of ’n feëverhaal.

Tog, dit sal ook nie slaag nie. Ons kan getroos wees deur die wete dat ons Verlosser leef. So gee Hy aan almal wat aan Hom behoort ’n beter toekoms, nou en vir ewig.

Dr Chris le Roux, Stellenbosch/Worcester

 

Share via
Copy link
Powered by Social Snap