Lukas 1: 26-38; 2: 8-20 

Deesdae kry ’n mens die mooiste engele in die winkels te koop. Van die fynste soort tot die mees abstrakte. Wanneer ons dink aan die woord engel, dink ons dadelik terug aan die engel Gabriël wat die blye boodskap van Jesus se geboorte gebring het. Of aan die engele wat aan die skaapwagters verskyn het en God geprys het met die woorde: Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het! (Luk 2: 14).

Die skaapwagters van daardie tyd was nie gesiene mense nie. Tog het hulle hierdie blye boodskap eerste gekry. Dit is so wonderlik om te weet dat God almal raaksien en aan elkeen hierdie blye boodskap van ons verlossing wil oordra. Om te weet dat God selfs die geringstes raaksien en hulle kies om hierdie boodskap eerste te hoor!

Die blye boodskap wat die engele bring, geld nie net vir daardie skaapwagters nie, maar ook vir ons vandag. Saam met die engele wil ons ook juig en sing van ons Verlosser wat ons kom red het. Aan God kom al die eer toe. Hy het ons in ons nood raakgesien, en iets daaraan gedoen. Die engeltjies wat ons aan ons Kersbome hang, herinner ons aan die Blye Boodskap wat vir ons almal geld. ’n Boodskap van verlossing en vergifnis. Vir ewig!

Gesang 366

Ds Maritza Oosthuizen, Belfast/Waterval Boven

af
af
Copy link