Matteus 7: 12

Jesus was bekend daarvoor dat Hy dikwels nie ’n man van baie woorde was nie. Sy bekendste “preek” (die bergpredikasie in Matt 5-7) kan in minder as agt minute gelees word, sy bekendste gelykenis (oor die verlore seun in Luk 15) in 90 sekondes, en Hy het gebed in vyf sinne opgesom (die Onse Vader in Matt 6). Hy het ’n siel gered met een sin (Luk 23: 43), die wet in net drie verse opgesom (Mark 12: 29-31), en alles wat Hy die mense geleer het, in net een sin saamgevat: Julle moet die mense liefhê soos Ek julle liefhet (Joh 15: 12).

Dieselfde bondigheid kom voor in Matteus 7: 12. Hier som Jesus feitlik die hele Ou Testament (wet en profete) op met een sin: Wat jy wil hê ander aan jou moet doen, moet jy aan ander doen. Hierdie uitspraak van Jesus staan dikwels bekend as die sogenaamde “goue reël”. Ons moet nie dat die bekendheid van hierdie uitspraak van Jesus die implikasies van wat Hy hier sê ons laat verbygaan nie. Jesus sê nie hier dat as jy nie daarvan hou dat ander jou in die oog steek, jy dit nie aan ander moet doen nie.

Nee. Jesus se uitspraak sê en vra veel meer. Doen vir ander wat jy graag wil hê ander vir jou of aan jou moet doen. Wil jy graag met respek behandel word? Respekteer dan ander. Wil jy graag hê ander moet regtig luister as jy met hulle praat? Luister dan met aandag wanneer ander met jou praat. Wil jy graag hê ander moet jou nie net sommer oordeel nie? Moet dan nie ander oordeel nie.

Wat Jesus hier vra is aksie, nie reaksie nie. Wees die kind van God wat eerste vergewe, liefhet en omgee. En wees die laaste om te oordeel, te haat en net jouself raak te sien. En moenie aan ander doen wat ander soms aan jou doen nie. Jesus vra aksie, nie reaksie nie. Dan doen jy die wil van die Vader wat in die hemel is.

Prof Ernest van Eck, Universiteit van Pretoria

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link