Matteus 7: 7-12

Gebed (vra) is so deel van ’n gelowige se lewe soos die water wat jy elke dag drink. Daarsonder kan ’n mens jou nie in ’n geloofslewe indink nie. In hierdie gedeelte gaan dit oor gebedsverhoring. Gebed (vra) word verder toegelig met soek en klop. Die feit dat Jesus sê dié drie sal beantwoord word met ontvang, vind en oopmaak, kan ’n mens maklik laat wonder oor al jou onbeantwoorde gebede. Hoeveel keer het dit nie al in jou lewe gebeur nie dat jy vra, maar dan wonder hoekom beantwoord God dan nie my gebede nie?

In die konteks waarin hierdie gedeelte staan, gaan dit oor die oorvloedige geregtigheid (Matt 5: 20), oor wat ons aan mekaar doen. So gesien, word gebed hier die bid om wysheid en insig en die regte gesindheid. In ons verhouding met mense is dit nie altyd so maklik nie. Ons is emosionele wesens, elk met sy en haar eie geaardheid en persoonlikheid. Ons kan mekaar maklik verkeerd opsom en opvryf. Dit lei tot subjektiewe reaksie gegrond op jou emosie, wat dikwels katastrofiese gevolge het.

Om in jou gebed die regte goed te vra, plaas op jou die verantwoordelikheid om te soek. Dit gebeur wanneer jy die Bybel lees en die uitnodiging om jou te verdiep in die dinge van die koninkryk van God ernstig opneem. Dan sal jy leer dat jy uit eie vermoë maar swak en nietig is en in baie opsigte tekortskiet. Daarom klop jy aan by die deur van God se barmhartigheid, om vir jou die deur oop te maak en jou te help om te doen wat jy uit eie vermoë nie kan regkry nie.

Jesus gebruik dan die natuurlike gang van die lewe om te verduidelik hoe ons op God kan staatmaak om ons te help. Sondige mense sal tog nie, as hul kinders vir hulle brood en vis vra, vir hulle ’n klip en ’n slang gee nie. Soveel te meer sal ons hemelse Vader aan ons die goeie gawes gee wat ons van Hom vra. Ons moet aan mekaar doen wat ons onsself gun.

Ds Dries Beukes, Emeritus/Swartkop

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link