Psalm 115

Nie aan ons nie, Here, maar aan U kom die eer toe. Hierdie teksvers verteenwoordig die tema van die hele Psalm, naamlik dat dit nie gaan oor die eer van mense nie, maar oor die eer van God. Daarom kniel die volk in nederigheid voor God, wetende dat hulle nie eens aan God die eer kan bewys wat Hom toekom nie. Dit is eers wanneer die volk hul gedagtes op God rig, dat hulle hulself met ander volke kan vergelyk. Die ander volke, hul vyande, vra waar die God van Israel is, want Israel het nie ’n mensgemaakte God wat gesien kan word nie. Die volk antwoord dat die mense wat ’n beeld aanbid, net soos die beeld is met oë wat nie kan sien nie en ore wat nie kan hoor nie; wat staan daar waar hy neergesit is. Israel se God is nie so nie. Hy is die almagtige, ewige God. Hy is die ware God. Daarom roep die Psalm die hele volk op om op die Here te vertrou.

Ons God is nie ’n mensgemaakte idee of teorie nie. Hy is nie soos ’n afbeelding wat net daar staan nie, Hy is die ware God, daarom kan ons op Hom vertrou. Dit is Hy wat jou gebede verhoor, wat by jou is in jou donkerste uur. Hy is die God wat jou so liefgehad het dat sy Seun in jou plek gesterf het sodat jy waarlik kan lewe.

Wanneer die lewe met jou gebeur en jy gekonfronteer word met dinge waarvoor jy nie gereed is nie, wat dit ook al is, onthou God lewe en Hy gaan jou nie in die steek laat nie. Jy kan Hom vertrou, vandag, môre, altyd.

Drie keer sê die Psalm dat die volk op die Here moet vertrou, en drie keer kom die versekering dat die Here dink aan sy beloftes en dat Hy sy kinders seën, klein en groot. Kom ons gee Hom vandag die eer omdat Hy elke oomblik ook by ons is.

Ds Willem Sauer, Waterberg

af
af
Deel met behulp van
Copy link